Die Hoër Meisieskool Bloemhof se leerders het weer eens bewys waarom dit een van die topskole in die land is.
Hul matriekuitslae vir 2022, wat verlede Vrydag (20 Januarie) verskyn het, het Bloemhof weer ’n 100%-slaagsyfer gegee en die skool pronk ook met 98% van die leerders wat met universiteits-toelating slaag.
Om dit alles te kroon is Anna-Mart Louw, die Dux-leerder vir 2022, aangewys as die tweede beste leerder in die provinsie en die land onder Kwintiel 5-skole. Sy spog met ’n allemintige 98%-gemiddelde vir al haar vakke, met 100% vir onder meer wiskunde, ingenieursgrafika en ontwerp.
Anna-Mart gaan vanjaar elektriese- en elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Haar droom is haar eie maatskappy, wat deur innovering aktuele probleem-oplossings bied.
“Ek is verskriklik dankbaar en oorweldig met die Here se genade oor my uitslae. Hy is so goed vir my, en ek sal nooit kan vergeet waar my krag en hulp vandaan kom nie,” sê sy.
Op die vraag oor haar resep tot sukses, sê Anna-Mart dit is om hard te werk, maar ook genoeg te rus. “Om jouself te oorwerk is amper erger as om nie te leer nie. Een van die belangrikste dinge is om nóóit aan te beweeg met ’n nuwe konsep as jy ’n vorige een nog nie verstaan nie. Dan bou jy ’n wankelrige fondasie. Maak seker jou basis is altyd sterk voordat jy daarop bou.
“My motivering is Jesus Christus. Hy is die een wat my aanhou help en dra deur moeilike (en goeie) tye. Ek sou dit nooit sonder Hom kon doen nie,” voeg sy by.
Kort op haar hakke volg Mienja Strauss met ’n gemiddeld van 95,5% vir haar nege vakke.
Anna-Mart, Kyanti Greyling, Emma Berry en Misha Potgieter het elkeen agt A-simbole behaal. Hierdie groep vroue het altesaam 465 A-vakonderskeidingns en 55 A-gemiddeldes behaal. Boonop het 76,4% van die hele klasgroep – 135 leerders – ’n B-gemiddeld of hoër verwerf.
Verder was die uitslae :
. 22 slaag met sewe A’s,. 14 slaag met ses A’s,. nege slaag met vyf A’s,. nege slaag met vier A’s, en. 44,3% slaag met vier of meer A-simbole.
Bloemhof beklee die tweede plek in die Kwintiel 5-skole-afdeling.