Wat ’n plesierige berguitstappie vir ’n groep ervare stappers moes wees, het in ’n nagmerrie ontaard toe hulle verlede Saterdag (9 Julie) deur onweer oorval is, in die berg verdwaal het en een lid van die groep geval en ’n been gebreek het.
Die groep van so ver as Kleinmond het Saterdagoggend vroeg by die Tokara-wynlandgoed in Helshoogte bymekaargekom.
Van hier het hulle die uitdagende Simonsberg se B-roete, wat na die Simonsbergpiek lei, aangepak. Hierna sou hulle weer berg-af terug na Tokara stap.
Onder gewone omstandighede sou die roete binne sowat sewe uur voltooi word, maar 24 uur later was hulle steeds in die berg gestrand.
Die weer was eers sonnig, maar bewolk, en die groep was daarvan bewus dat reën vir die aand voorspel is.
Een van die stappers, Vera Bothma, het gesê alles het eers heel goed verloop toe hulle die beeldskone, dog uitdagende roete aangedurf het.
“Ons het ’n baken gesoek wat ons rigting sou aandui, maar ons is oorval deur digte mis en kon dit nie opspoor nie.
“Die wind het ook erg begin waai en die sigbaarheid was baie sleg.”
Weens hierdie omstandighede was die groep, ten spyte van die teenwoordigheid van ’n opgeleide berg-gids, heel gedisoriënteerd, maar hulle het steeds van die berg probeer afkom totdat hulle besef het hulle betree nou gevaarlike terrein.
Een van die groeplede het daarin geslaag om ’n noodoproep te maak toe hulle in ’n gebied was waar hulle selfoonsein gehad het.
Hierna is Wildernis-soek-en-reddingspanne (WSAR) die berg in op hul spoor.
Bothma het gesê hulle het weens ’n swak selfoonsein gesukkel met kommunikasie met die reddingsmense om te verduidelik presies waar hulle is.
Dit het later donker geword, wat die soektog nog moeiliker gemaak het, en dit was nat en baie koud.
“Ons het probeer om mekaar se gedagtes af te lei deur te sing en raai-raai-speletjies speel,” het Bothma vertel.
Dit was ’n groot verligting vir die groep toe hulle die reddingspan se ligte sien.
“Ons het hul fluitjie gehoor en hard daarop reageer.”
Die reddingspan het die stappers in die donkerte en weersomstandighede na ’n grot in die berg gelei, waar hulle tot daglig oornag het.
In die oggend het ’n tweede reddingspan hulle bygestaan met warm klere en ’n stofie.
Met die aftog teen die berg af het die noodlot toegeslaan toe een van die vroue in die groep stappers op nat rotse gegly en 10 meter ver geval het.
Sy het ’n ernstig beenbreuk opgedoen en weer eens is nog ’n reddingspan ontbied.
’n Voubed en bykomende reddingstoerusting is tot by die pasiënt gedra, waarna sy sowat 150 m afgehys is tot by ’n punt waar reddingspanne haar die res van die pad kon dra.
Die beseerde stapper is uiteindelik om 21:30 na ’n hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Nog ’n stapper het hipotermie opgedoen.
Bothma het gesê dit was ’n vreesaanjaende staptog teen die berg af omdat die rotse glad en nat en die roete plek-plek modderig was.
’n Woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding het bevestig dat hulle op ’n noodoproep gereageer het en sy spanne is Saterdagaand laat na Simonsberg om die groep te gaan red.
Hulle het die groep se roete gevolg en hulle eindelik ná 02:20 naby die kruin van die berg opgespoor.
Te midde van stormagtige weerstoestande het die groep Sondag om 08:30 die staptog na veiligheid begin.
Bothma en die res van die stappers het hul dank en waardering uitgespreek aan almal betrokke by die WSAR wat hulle so spoedig en professioneel bygestaan het met die reddingspoging.
Bothma sê ná die skrikwekkende ervaring dit is uiters belangrik dat enigiemand wat die berg aanpak, aan sekere vereistes moet voldoen:. Doen goeie navorsing en beplanning vir die roete vooraf.. Maak seker van die weersomstandighede.. Die gids behoort homself van die roete te vergewis en die roete nie langer as een maand voor die staptog nie self aflê om seker te maak van die omstandighede in die omgewing.. Bepaal ook die vermoëns van die stappers en neem daarvolgens besluite.. Elke stapper moet verantwoordelik wees vir sy eie toerusting en toesien dat hy warm klere het (al begin die dag warm), sowel as basiese noodhulptoerusting, genoeg water en rehidrasievloeistof, droë sokkies, ’n fluitjie en basiese noodtoerusting.