Kingdom Development Projects (KDP), ’n organisasie sonder winsbejag in Klapmuts, het in Januarie ’n nasorgprojek in die gemeenskap begin. Volgens die KDP-stigter, Leticia Pietersen, fokus die organisasie op sportontwikkeling en opvoeding, en het hulle dus besluit om die nasorgprogram van stapel te stuur met die doel om kinders van die gemeenskap uit die strate te hou deur verskeie opvoedkundige en sportprogramme in die middae aan te bied. Die program, wat tans 22 kinders ’n heenkome bied, is spesifiek vir laerskoolleerders en word in Afrikaans en Engels aangebied. Dit word weeksdae van 14:00 tot 17:00 by die klubhuis van die Klapmuts-sportterrein, met die ondersteuning van die wyksraadslid JC Anthony, aangebied. Pietersen het haar dank aan The High Road Wines vir hul skenking van skryfbehoeftes bedank en doen ’n beroep vir verdere skenkings en vrywilligers. Vir meer inligting skakel 083 987 3597, stuur e-pos na kdp.projects@gmail.com, of besoek https://kdpprojects.com/www-kdpprojects-com.