’n Niggie en neef van Stellenbosch het die voorreg gehad om onlangs saam hul doktorsgrade aan die Universiteit Stellenbosch te verwerf.
Die broers- en susterskinders Jurie Zietsman en Juletha-Marie Dercksen het die uitsonderlike prestasie behaal deurdat albei doktorsgrade in onderskeidelik bedryfsingenieurswese en regsgeleerdheid op die US se Maart-gradeplegtigheid ontvang het.
Wat die prestasie nog meer besonders maak, is dat albei ook die rektorstoekenning as die beste voorgraadse en meestergraadstudente in hul onderskeie kursusse ontvang het. Hulle het ook elkeen hul grade cum laude verwerf.
Die familiegene van dié twee slimkoppe sluit regsgeleerdes, mediese dokters en ’n professor in.
Jurie werk tans as bedryfsingenieur by Spatialedge in Stellenbosch en Juletha-Marie as kandidaatprokureur by Von Seidels in Century City.
“Ons is baie na aan mekaar. Ek beskou Jurie as een van my naaste vriende – veral vandat hy in sy eerste jaar in Stellenbosch kom swot het. Ons deel baie belangstellings, soos bergfietsry, om die Tour de France te volg, veldwedlope (trail running) en baie ander. Ons hou ook elke nou en dan ’n pasta-aand by Jurie se huis, wanneer hy die pasta self maak,” sê Juletha-Marie.
Jurie beaam wat sy sê en voeg by: “Dit is altyd lekker om tyd saam deur te bring en ons het altyd ’n magdom onderwerpe om in te haal en te bespreek. Ons deel ook ’n liefde vir sport en die natuur.”
Juletha-Marie is ’n kandidaatprokureur by Von Seidels, een van Suid-Afrika se voorste intellektuele-goederereg-firmas. “Ek werk in die handelsmerkafdeling, waarin ek baie belangstel, en sal graag die onderwerp van my doktorsgraad – die spanning wat ontstaan by die oorvleueling van mededingingsreg en intellektuele goederereg – verder wil ondersoek,” sê sy.
Jurie voeg by: “Ek het hierdie jaar as data- en masjienleeringenieur by Spatialedge in Stellenbosch begin werk. Ons konsulteer vir maatskappye in ’n wye verskeidenheid bedrywe, soos telekommunikasie, klere, die bankwese, beleggings, eiendom en ook sekere staatsdepartemente.”
Jurie is die eerste ingenieur in ’n familie waar geneeskunde en die regte histories koning gekraai het. “Albei my ouers was ook op Stellenbosch – my pa het grade in BCom regte en LLB en my ma het grade in aptekerswese en BCom. Ek glo ’n gesonde balans is die sleutel tot volhoubare geluk en voorspoed in die lewe.”
Juletha-Marie se pa is ’n prokureur wat al 25 jaar lank ’n praktyk in Stellenbosch het. “In ons onmiddellike familie is daar 13 prokureurs. My broer is tans besig met sy LLM aan die Universiteit van Kaapstad. Verder was my oupa, Rufus Dercksen, ook ’n prokureur sowel as die redakteur van die Matie in sy tyd by die US.”
Juletha-Marie is ’n oud-Bloemhoffer en Jurie het aan die Hoërskool Punt in Mosselbaai gematrikuleer.
Juletha-Marie het nasionale kleure in perde-uithouritte en Jurie het vir Maties tennis gespeel. Al twee het ook al ’n paar marathons, Kaapstad-fietstoere, driekampe en veldwedlope agter die blad.