Hoërskole kan nou vir Artscape en die Suidoosterfees se Hoërskool-dramafees inskryf.
Die fees bied jaarliks aan leerders van skooldramagroepe die geleentheid om hul talent op die Kunstekaap-verhoog ten toon te stel, en die wendrama sal by die 2023-Suidoosterfees ingesluit word. Pryse is ook op die spel vir die beste akteur, regisseur en skrywer, en wenner-akteurs gaan ’n gasverskyning in die kykNET-sepie Suidooster maak. Deelnemers word genooi om stukke in te skryf wat handel oor sosiale uitdagings waarmee leerders in vandag se lewe gekonfronteer word.
Om deel te neem, moet hoërskole teen Vrydag 20 Mei ’n video-uittreksel van 10 minute van hul skooldrama stuur na slu@artscape.co.za. Finaliste sal genooi word om hul produksies, wat tussen 30 en 60 minute lank moet wees, van 15 tot 20 Augustus by die fees op te voer.