Nelsons-sokkerklub van krag tot doel-krag

Die sokkerseisoen staan einde se kant toe en vir een plaaslike span het hul harde werk hulle ’n kans gegun om na die klubsokker-liga bevorder te word.


Die sokkerseisoen staan einde se kant toe en vir een plaaslike span het hul harde werk hulle ’n kans gegun om na die klubsokker-liga bevorder te word.

Hoewel die Nelson-sokkerklub verlede Woensdag (2 Mei) met 3-4 teen die Franschhoek-sokkerklub vasgeval het en nie bevorder is nie, is die span tevrede met die afgelope seisoen wat hulle amper tot die Castle-liga bevorder gekry het.

Om naby promosie te kom, is egter nie ’n oornagproses nie en verg harde werk, soos die afrigters Gladwin Wanza en Christo Wenn verduidelik. Volgens Wenn is vanjaar se span die beste kombinasie van die span in die afgelope vyf jaar wat hy as afrigter dien.

Daar is genoeg diepte danksy die spelers wat vanjaar weer saam speel, maar ook heelwat jong bloed danksy die voormalige junior spelers wat nou op senior vlak speel.

“Ek glo nie in ’n chop and change wanneer dit by ’n span kom nie. Die rede hoekom ek na Gladwin uitgereik het, was sy goeie ondervinding en die manier wat ons koppe werk. Ek en hy kyk amper die spel met een kop en dit het ek al van kleins af gesien,” sê hy.

Wenn sê hy glo Wanza sal help om die span na die volgende vlak te neem.

Die seisoen, wat verlede Oktober begin het, spreek tot die harde werk van die span. Daar bly egter altyd vaardighede om aan te werk en vir die afrigters beteken dit beter afronding.

Goals win matches, en ons werk aan die afronding wanneer ons by die doelhok kom. Soms raak die oomblik te groot, dan skop hulle dalk mis. Dit kon dan ’n kans gewees het om die wedstryd te wen,” meen Wanza.

Hy sê die taktiek in die eindstryd was om druk op hul teenstanders te plaas en hul algemene fiksheid te verbeter.

Die twee bieg dis nie altyd maklik om kop te hou wanneer die spelers gefrustreerd raak nie, maar hulle weet hulle is die twee wat hulle moet moed inpraat, kalm bly en langtermyn dink.

“Ons sê altyd behou die dissipline en laat ons maar die skelwerk langs die veld doen. Indien een van ons afgestuur word, is daar darem nog een afrigter oor,” spot Wanza.

Die twee meen hulle is steeds trots op wat die span die afgelope seisoen bereik het en glo al was die span nie bevorder nie, kan hulle steeds trots op hul spel wees.

Wenn verskaf die spelers se statistieke as voorbeeld hiervan.

Rheado Kipido was die span se top-doelskieter met 18 doele, gevolg deur Ivano Brown op 13 en Calister Pohl met 11. Darren Present, Emerson de Vries en Devon Orsen het al drie altesaam ses doele hierdie seisoen aangeteken.

Kipido is een van die jonger spelers wat verlede jaar die eerste keer in die senior afdeling gespeel het. Brown het op sy beurt verlede seisoen nie veel speelkans gekry nie, maar het nou uitgeblink met sy doele en “gewys hy moet in die begintal wees”. Pohl is volgens Wenn ’n staatmaker – nie net vir doele nie, maar ook met hulp vir ander doelskieters. Present is ook ’n nuwe speler en bobaas-doelskieter en help veral met motivering van sy spanlede, sê Wenn. Hoewel De Vries ’n voorspeler is, is hy die span se strafskop-skieter en mis nie sommer sy kans nie. Wenn vertel Orsen is nie altyd deel van die begin-11 nie, maar wanneer hy sy kans kry, laat hy dit tel.

Met dié kombinasie van vaardighede meen die afrigters die Nelson-sokkerspan is gereed vir die uitdagings vir die volgende seisoen en sy kans in die Castle-liga.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.