Die energiereguleerder Nersa het verlede week weer ’n pak slae gekry toe die hooggeregshof in Pretoria bevind het die wyse waarop hy die afgelope dekade al munisipale kragtariewe vasstel, is onwettig en ongeldig.

Die hof het Nersa 12 maande gegee om ’n wettige metodologie te ontwikkel.

Dít beteken dat verbruikers van 1 Julie 2024-’25 nie meer deur middel van kragtariewe vir bedrywighede van munisipaliteite en ander dienste wat niks met elektrisiteit te doen het, hoef te betaal nie.

Eskom het dié aansoek ondersteun. Nersa het tot dusver jaarliks ’n riglyn gepubliseer om vir munisipaliteite aan te dui met watter persentasie hulle hul kragtariewe moet verhoog. Daarmee saam het Nersa prysbande gegee waarbinne die tariewe vir verskillende gebruikersgroepe moes wees.

Die riglyn is saamgestel uit die persentasie waarmee Eskom sy tariewe sou verhoog, die inflasiekoers op munisipale vlak, ’n voorsiening vir loonverhogings en ’n paar ander koste-items.

Munisipaliteite wat binne die ooreengekome verhoging en prysbande gebly het, se tariewe is goedgekeur sonder dat Nersa gekyk het wat dit hulle kos om krag te lewer of hoe doeltreffend hul bedrywighede is. Nersa het ook nie die publiek daaroor geraadpleeg nie. Dít is net gedoen as munisipaliteite groter verhogings wou hê.

Die hof het bevind dat dié werkwyse strydig is met die Wet op Elektrisiteitsregulering.

Daarvolgens moet die tariewe só vasgestel word dat ’n lisensiehouer (munisipaliteit) sy doeltreffende koste van dienslewering plus ’n redelike marge kan verhaal. Dit is die grondslag waarop Nersa Eskom se tariewe vasstel.

Boonop moet kruissubsidiëring tussen verskillende groepe verbruikers, soos huishoudings en nywerhede, deursigtig en billik wees.

Die hof het bevind Nersa het versuim om die koste van diens­le­we­ring van elke munisipaliteit te bepaal en het nie die nodige bere­kenings gedoen om vas te stel wat ’n redelike marge sou wees nie.

You need to be Logged In to leave a comment.