Net matrieks wat skriftelik toestemming gegee het dat hul uitslae gepubliseer mag word se uitslae sal op openbare platforms soos koerante en aanlyn beskikbaar wees.
Elijah Mhlanga, nasionale woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het vandeesweek gesê die departement verwerk die toestemmingsvorms wat tydens die eindeksamen onder 2022-matrieks versprei is.
“Die vorms is onder soveel moontlik matrieks versprei, maar elke matrikulant het nie noodwendig een ontvang nie.”
Mhlanga het gesê slegs matrieks wat vorms ingevul en toestemming gegee het se eksamennommers met hul uitslae sal op openbare platforms beskikbaar wees. Geen name sal egter gepubliseer word nie.
Die departement het betreklik min tyd gehad om die vorms te versprei nadat die Inligtingsreguleerder van Suid-Afrika vroeër vanjaar bevind het die vorm wat die onderwysdepartement eers onder sowat 900 000 matrikulante versprei het, nie voldoen aan al die vereistes van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) nie. Die vorm is onttrek en tydens die matrieks se finale eksamen heruitgereik en onder leerlinge versprei.
Die reguleerder het in November in ’n verklaring gesê hy het vroeg vanjaar met die departement vergader ná verlede jaar se onsekerheid, verwarring en teenstrydige “sentiment” oor die interpretasie van die Popi-wet rakende die bekendmaking van die matriekuitslae. Die kernkwessies was die matrieks se reg op privaatheid teenoor die openbare belang daarvan om die uitslae te publiseer.
Die reguleerder het met die departement ooreengekom dat die departement die bevoegdheid het om self te besluit oor die publikasie van die uitslae, maar dat die reguleerder die besluit ingevolge die Popi-vereistes sal beoordeel.
Die wet vereis persoonlike inligting mag slegs op ’n billike en wettige manier verwerk word en slegs met die toestemming van die tersaaklike persoon, of in die geval van kinders ’n bevoegde persoon.
Die reguleerder het bevind die aanvanklike toestemmingsvorm het nie daarvoor voorsiening gemaak dat die matrikulante (of bevoegde persoon) kon toestem of weier in elke opsig waarin persoonlike inligting verwerk word nie.
Daar is ook nie voorsiening gemaak dat toestemming teruggetrek kan word nie. Die reguleerder het toe opdrag gegee dat die vorm onttrek word. Daarna is die vorm aangepas sodat die matrieks of bevoegdes duidelik kon aandui waarvoor hulle toestemming gee, en ook die toestemming kon terugtrek.