Die Kaapse Wynland-netbalfederasie stuur vanjaar die beste van die streek na die SPAR- nasionale kampioenskap, wat Sondag (1 Desember) by Ellispark begin.
Die plaaslike o.21-netbalspan sal vandeesweek na Johannesburg reis waar hulle sal deelneem.
’n Span van die Wynlande het sedert die begin van dié kampioenskap deelgeneem en dit is daarom geen verrassing dat die span reeds vroeg vanjaar vir dié toernooi gekwalifiseer het nie – dit ten spyte van die relatief min wedstryde wat die afgelope seisoen as gevolg van reënweer gespeel is.
Gewoonlik word die toernooi in Augustus ter viering van Vrouemaand aangebied, maar met die Parys- Olimpiese Spele is die geleentheid uitgestel. Dit het beteken die spelers moes tussen eksamens, werk en alledaagse dinge op Woensdae en oor naweke oefen. Verlede Donderdag (21 November) het die o.21-span teen van die Wynland se voorste manne sowel as ’n paar Matie-mans kragte gemeet as deel van hul voorbereiding.
Die spelers wou verseker hul vaardighede is verskerp vir die toernooi, aangesien van hulle vir die Baba-Protea-span gekies kan word.
Benewens die span van die Wynland sal die Wes-Kaap ook deur ’n span van die metropool verteenwoordig word.
Sowat 1 800 spelers word by die toernooi verwag, met 10 distrikte wat vir die senior A-titel sal meeding.