Die 2022 ClemenGold-distrikte-netbaltoernooi was nie net ’n reusesukses nie, maar ook ’n broodnodige toevoeging tot die Suid-Afrikaanse netbalkalender.
Die Stellenbosse Aramex Eagles het die toernooi gewen nadat hulle in die eindstryd met die Support Active Blue Birds van Durbanville afgereken het. Die eindtelling was 46-31.
Die Eagles se Anke Uys is as speler van die toernooi aangewys en die span se doel en kaptein Elizka Kunz as die doelskieter van die toernooi. Die beste senterbaan-speler was Janine Bressler van die Blue Birds en Dominique Wepenaar die beste verdediger.
Die legendariese netabalspeler, Karla Pretorius het die toernooi bygewoon en was meer as beïndruk met dit was sy gesien het.
“Netbal in Suid-Afrika het toernooie soos dié nodig. Dit is goed vir die sport. En vir die spelers. Dit is lekker vir almal om hier te wees en hul talente uit te leef. Hoe meer ons spelers blootstelling soos die kry, hoe beter,” het Pretorius met die amptelike opening gesê.
Freda Kemp, hoof-organiseerder van die toernooi en afrigter van die Aramex Eagles, kon nie anders as om te glimlag na afloop van die naweek se aksie nie.
“Ek is dankbaar dat alles so goed afgeloop het. Dit was harde werk deur baie hande wat dit moontlik gemaak het. Vir die wat gewonder en selfs getwyfel het, het ons nou gewys wat ons kan doen en nou kan ons net voortbou op die goeie grondslag wat gelê is,” het Kemp gesê.
“Daar is soveel mense wat ’n rol gespeel het en elkeen van hulle verdien erkenning. Van die mense wat die vloere gevee het, die tegniese personeel, die skeidsregters, ons ongelooflike borge en ondersteuners en dan het ek nog nie eens by die spelers gekom nie! Ek is seker die jaar was net die begin.”
Kemp was ook baie trots op haar spelers wat die toernooi onoorwonne afgesluit het. “Dit is ’n spesiale groep spelers en dit is my voorreg om hul afrigter te wees.”
Best In Seahawks het Afdeling B gewen nadat die span die ander Stellenbosse span in die toernooi In2ition Falcons in die eindstryd 46-31 geklop het. Hulle is ook bevorder na Afdeling A toe hulle die Prinro Penguins van die Weskus met 58-43 ore aangesit het in die promosie-relegasie-wedstryd.
Aramex Eagles uitslae: Aramex Eagles 50, Support Active Blue Birds 37; Aramex Eagles 61, Prinro Penguins 25; Aramex Eagles 56, Pro Star Blue Cranes 34; Aramex Eagles 44, Ramble Swifts 40.