Die NG Kerk-argief is vanjaar die eerste keer deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees, wat van Saterdag 28 September tot Sondag 6 Oktober in die Eikestad aangebied word.

Die Argief bied vyf diskoerssessies in die kapel van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit teologie aan.

Andrew Kok, argiefbestuurder en spesialisgenealoog, sê die gespreksessies sal “die stories van ons geskiedenis” op ’n interessante en verbeeldingryke wyse herleef.

“Daar is ware skatte wat in die kerk-argief opgesluit lê en ons het gedink die Woordfees bied die ideale geleentheid om hierdie skatte af te stof en met lede van die publiek te deel. Hierdie vyf unieke aanbiedings gebruik beeld, geur en klank om die stemme van die verlede op te roep,” verduidelik hy.

Die eerste sessie vind Maandag 30 September om 11:00 plaas, wanneer Kok wys hoe jy jou familiegeskiedenis kan opspoor deur geboortesertifikate, doopregisters en huweliksertifikate wat in die argief beskikbaar is.

Dinsdag 1 Oktober om 11:00 gesels Amy Rommelspracher oor kosstories van pioniersendelinge en hoeveel van hulle se kosbare stories so deur die eeue vasgevang is. Kunsstudente het onlangs deur hul verkennings van die argief die versamelings van twee NGK-sendelinge gebruik om hierdie draad van die geskiedenis in kunswerke om te skep.

Die veldpredikers kom Woensdag 2 Oktober om 11:00 aan die beurt. Die argief se Esté Kotzé en Lizelle Smit neem bywoners op ’n reis saam met drie boerekapelane tydens die Anglo-Boereoorlog.

Die dominees het tydens die oorlog baie meer as net preekwerk gedoen. JD Kestell was saam met die Bittereinders op kommando, terwyl AF Louw die konsentrasiekampe op St. Helena bedien het en AD Luckhoff by die Bethulie-konsentrasiekamp was, waar dit baie sleg gegaan het. By nadere ondersoek het hulle ontdek dat die dominees basies ’n informele hulpdiensnetwerk geskep het om lidmate nie net geestelik nie, maar ook fisiek te versorg.

In Andrew Murray: Untold story of a vulnerable father, word gekyk na die briewe wat dr. Andrew Murray geskryf het. Dié aangrypende verhaal van praktiese vaderliefde deur Isabel Murray, Richard Holloway en Cecile Murray-Louw word Donderdag 3 Oktober vertel.

Laurinda Hofmeyr se toonsettings (met Schalk Joubert op baskitaar) gee nuwe diepte aan hierdie 100 jaar oue woorde. Hierdie aanbieding vind om 10:00 plaas en word om 17:00 herhaal.

Die argiefreeks sluit Vrydag 4 Oktober om 11:00 af met ’n sessie oor musiekgeskiedenis. Kom luister en sing lekker saam met die bekendstelling van die eerste NGK-musiekversameling. Isabel Murray tree as verteller op met begeleiding deur Devandré Boonzaaier, ’n orrelis en kenner van die Morawiese liedereskat.

Die “voorsanger” is die jong sangstudent Carlo Louw.

  • Kaartjies vir al die gesprekke en vertonings is aanlyn deur Quicket beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.