? Nobel-simposium – die byeenkoms van die grootste denkers, navorsers en akademici in die wêreld – vind die eerste keer sedert 1965 buite Skandinawië plaas. En dit is in Stellenbosch, Suid-Afrika.

Credit: SYSTEM

Die Nobel-simposiums sal binnekort die eerste keer in die geskiedenis buite Swede gehou word – dié keer in Stellenbosch as ’n vennootskap tussen die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studies (STIAS) en die Universiteit Stellenbosch (US).

Het jy geweet die Nobelprys vir fisika is in die vroeë 1930’s etlike jare lank – die langste vredestyd-onderbreking in die geskiedenis van dié toekenning – nie amptelik toegeken nie? En het jy geweet dit het gebeur omdat dit, ironies genoeg, een van die mees opwindende en revolusionêre tydperke in fisika was – die geboorte van subatomiese fisika?

Toe die prys in 1933 uiteindelik wel toegeken is (nadat dit in 1932 uitgestel is), het dit gegaan aan die wetenskapsupersterre Werner Heisenberg, Erwin Schrodinger en Paul Dirac.

Hierdie fassinerende feite is in sy gasrede by die bekendstelling van die “Nobel in Afrika”-inisiatief deur prof. Mats Larsson, direkteur van die AlbaNova-universiteitsentrum en wetenskaplike historikus, oorgedra.

Dit is die eerste keer sedert 1965 dat ’n Nobel-simposium – die byeenkoms van die grootste denkers, navorsers en akademici in die wêreld – buite Skandinawië plaasvind.

Jare van beplanning en harde werk het danksy ’n doelgerigte poging deur STIAS, die Knut en Alice Wallenberg-stigting, die Nobel-stigting, die Koninklike Sweedse Wetenskapakademie en die US uiteindelik vrugte afgewerp.

Prof. Edward Kirumira, die direkteur van STIAS, het die afgevaardigdes verwelkom en gesê in hierdie geval kan aan STIAS as ? Afrika-vuurmaakplek gedink word – ’n “plek van samekoms waar wyshede gedeel en aan die volgende generasie oorgedra word”. Hy het erkenning verleen aan die deelname van universiteite oor Suid-Afrika heen sowel as aan die inisiatief. Hy het voorts die vennootskap uitgelig tussen STIAS en die US as gashere van dié “gewigtige” geleentheid, wat hy hoop “net die begin is van ’n opwindende, internasionale, wedersyds betekenisvolle inisiatief wat lank genoeg sal duur sodat ons Afrika-leerders, wat tans vroeg in hul loopbaan is, ’n Nobel-prys kan najaag”.

Prof. Wim de Villiers, die rektor en visekanselier van die US, het die eerste swart Nobelpryswenner uit Afrika, Wally Soyinka, aangehaal: “Niemand is ryk genoeg om gister te koop nie. Maar as jy hard genoeg woel, kan môre joune wees.”

De Villiers het gesê “Afrika woel nou al jare lank”.

“Navorsers en denkleiers van ons vasteland het hand en tand geveg om ruimtes in die akademiese wêreld in te neem en hul stemme te laat hoor. En met die ‘Nobel in Afrika’-simposiumreeks wat na Afrika en na Stellenbosch kom, word ons stemme hard en duidelik uitbasuin.”

De Villiers het gesê die “Nobel in Afrika”-uitreikprogram – ’n reeks lesings oral in Suid-Afrika en wat wetenskap na ’n wyer gehoor neem – “stem so mooi ooreen met die US se visie om inklusief te wees en om kennis in diens van die gemeenskap te bevorder”.

Peter Wallenberg jr., die voorsitter van die Wallenberg-stigtings, het die storie vertel van hoe sy pa se tyd in Afrika as verkoopsverteenwoordiger vir Atlas Copco tot ’n lewenslange liefde vir die vasteland gelei het en uiteindelik – in vennootskap met die US – tot die totstandkoming van STIAS. Die Wallenberg-stigtings is van die mees passievolle en ruimhartige ondersteuners van wetenskap ter wêreld en borg die Nobel-stigting al bykans 100 jaar lank. Dit is derhalwe ’n kardinale rat, indien nie die enjin nie, van die intellektuele en filosofiese masjien wat die Nobel-simposiums na Afrika gebring het.

Victor Helgesen, ’n uitvoerende direkteur van die Nobel-stigting, het die internasionalisering van die Nobelprys geloof en roerend herinner aan die mag van inspirasie en demonstrasie om ware en progressiewe verandering teweeg te bring.

Dr. Judith Omumbo van die Wetenskap vir Afrika-stigting het oor die dringendheid en uniekheid van wetenskaplike navorsing op die vasteland gepraat, asook oor die groot vordering wat gemaak word om aan hierdie behoefte te voldoen en die hupstoot wat hulle danksy die Nobel in Afrika-inisiatief sal kry.

Die Nobelprys is argumentshalwe die bekendste en mees prestigeryke erkenning wat vandag aan enige individu of organisasie gegee word. Dit dui op grootsheid en vier die wetenskaplike reuse wat op die skouers gestaan het van diegene wat hulle voorafgegaan het.

Met die “Nobel in Afrika”-inisiatief, wat uiteindelik op dreef is, is daar ’n beter kans as ooit dat van hierdie toekomstige reuse uit Afrika sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.