Nog 10 huise van Vlottenburg/Longlands-behuisingsprojek oorhandig

Trane van blydskap het Dinsdag (4 Oktober) gevloei toe begunstigdes van die Vlottenburg/Longlands-behuisingsprojek die sleutels van hul nuwe wonings ontvang het.


Trane van blydskap het Dinsdag (4 Oktober) gevloei toe begunstigdes van die Vlottenburg/Longlands-behuisingsprojek die sleutels van hul nuwe wonings ontvang het.

Die oorhandiging van 10 nuwe huise in Longlands is in ’n kort seremonie deur adv. Gesie van Deventer, die burgemeester van Stellenbosch, en Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, gedoen.

Bouwerk aan die behuisingsprojek het in April 2020 begin en altesaam 144 eenhede is destyds vir hierdie geleentheid geoormerk.

Negentien huise is reeds in Augustus vanjaar aan die eerste begunstigdes oorhandig.

Buiten die behuisingsprojek is werk vir plaaslike inwoners van Vlottenburg en Longlands geskep wat deel van die bouproses was.

Van Deventer het ook aan elk van die 47 werkers sertifikate van waardering oorhandig.

Van Deventer het in haar toespraak gesê inwoners kry nie net huise nie, maar word die eienaar van eiendom. “Hierdie eiendom voorsien hulle van ’n belangrike vangnet en ’n paspoort tot ekonomiese deelname. Dankie, minister Simmers, die Longlands Village Edms. (Bpk) en almal wat hierdie dag moontlik gemaak het. Ten spyte daarvan dat ons al drie ontwikkelaars gehad het wat nie die projek kon voltooi nie, het ons deurgedruk totdat dit voltooi is.

“Baie van hierdie begunstigdes wag al langer as 35 jaar vir huise. Ek het ook aan elke huis ’n suurlemoen­boom geskenk om dit ’n tuiste te maak – nie net ’n huis nie.”

Pieter Taaibosch, voorsitter van die begunstigdeskomitee, het gesê dit is ’n blye dag en een waarvoor die mense van Longlands lank geveg het. “Baie van die oorspronklike begunstigdes is al oorlede, maar hulle sou saam met ons bly wees vandag. Ons het gehoop en gebid vir hierdie dag, en nou is dit hier.”

Een van die begunstigdes, Katrina Antonie (68), sê sy het die vorige aand weens opgewondenheid niks geslaap nie. “Ek en my familie is as eerstekeer-huiseienaars baie dankbaar. Ek wens my oorlede man kon vandag hierdie spesiale geleentheid met my deel. Dit is die eerste keer in my lewe dat ek in ’n huis gaan woon.”

Nog ’n begunstigde, Gert Eksteen (71), is oorweldig deur emosie en het gesê hy is dankbaar dat hierdie dag uiteindelik aangebreek het. “Ek het as jongman hier aangekom en al die jare in ’n hokkie gebly; nou kan ek in my eie huis woon. My oorlede vrou sou saam met my bly gewees het.”

’n Geraamde sowat 98 huise sal na verwagting teen die einde van Desember voltooi wees. Die begroting was ongeveer R30 miljoen.

Simmers het gesê hy is verheug om hierdie hoofstuk saam met die inwoners van Vlottenburg en Longlands af te sluit.

“Ons is bly om hierdie hoofstuk, waar inwoners in omstandighede sonder hulpbronne gewoon het, af te sluit. Dit is na regte hoe Wêreld-habitatdag, wat ons ook vandag vier, gevier behoort te word. Ons het deur samewerking verseker die menswaardigheid van hierdie mense word herstel.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.