Nog geen cholera-gevalle in Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand het vandag bevestig dat daar geen gevalle van cholera in die Wes-Kaap is nie.


Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand het vandag bevestig dat daar geen gevalle van cholera in die Wes-Kaap is nie.

Dit ná ’n dodelike uitbraak van cholera in Hammanskraal in Tswane wat nou versprei het na nog vyf provinsies. Meer as 25 mense het sover hieraan gesterf.

Die departement van gesondheid woordvoerder, Sandra Maritz, het wel gesê dat die departement gemeenskappe die versekering gee dat sy gesondheidspanne gereed is om enige moontlike geval op te spoor. “As deel van die standaardprosedure om cholera vroeg op te spoor, sal pasiënte wat met waterige diarree na ’n gesondheidsfasiliteit gaan ook vir cholera getoets word,” het Maritz gesê.

Wat is cholera?

Cholera is ’n diarree-siekte wat veroorsaak word deur ’n bakterie genaamd vibrio cholerae.

Hoe beïnvloed cholera ’n mens?

Simptome kan dikwels lig wees en kan so gou as ’n paar uur of so lank as vyf dae ná infeksie begin en sluit waterige diarree, braking en beenkrampe in.

In sy ernstige vorm kom cholera tipies soos volg voor:

• skielike aanvang van siekte

• akute diarree wat pynloos en waterig is, met vlekke slym in die stoelgang

• braking kan voorkom, gewoonlik vroeg in die siekte

• meeste mense het nie koors nie, hoewel kinders ’n koors kan ontwikkel

• dehidrasie vind vinnig plaas, en as dit nie behandel word nie, kan dit dodelik wees.

Wie loop die risiko om cholera te kry?

Mense wat die grootste risiko loop om cholera op te doen, is diegene wat nie toegang het tot skoon, lopende water en ordentlike sanitasie nie.

Hoe versprei cholera?

Water wat met menslike ontlasting besmet is, is die vernaamste manier waarop cholera oorgedra word, hetsy direk (deur die drink van besmette water) of indirek (deur die eet van besmette voedsel).

• Water kan besoedel word by sy bron, tydens berging of tydens gebruik.

• Voedsel kan besmet raak wanneer dit met besmette water in aanraking kom.

• Vuil hande kan ook skoon drinkwater en kos besoedel.

Voorkoming:

• Drink en gebruik slegs veilige/skoon water. Jy kan kraanwater kook en laat afkoel om seker te maak dit is veilig vir verbruik.

• Was hande gereeld met seep en veilige water, veral voor jy eet of kos voorberei en nadat jy die badkamer gebruik het.

Hoe word cholera behandel?

Rehidrasie is die steunpilaar van behandeling en is lewensreddend. Ligte gevalle van cholera kan buite die hospitaal met orale rehidrasie bestuur word.

Matige en ernstig siek mense moet in die hospitaal opgeneem word vir binneaarse vloeistofrehidrasie. Antibiotika word aanbeveel vir pasiënte met matige of ernstige dehidrasie.

Vir meer inligting besoek: https://www.nicd.ac.za/diseases-a-z-index/cholera/

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.