Nóg ’n doktorsgraad in een gesin

Met slimkoppe in haar bloedlyn, was dit net ’n kwessie van tyd voordat Alberta “Berte” van der Watt van Paul Roux in die Oos-Vrystaat die kruin van akademie sou bereik.


Met slimkoppe in haar bloedlyn, was dit net ’n kwessie van tyd voordat Alberta “Berte” van der Watt van Paul Roux in die Oos-Vrystaat die kruin van akademie sou bereik.

Sy het Dinsdag (26 Maart) haar doktorsgraad in psigiatrie by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtigheid verwerf.

Wat haar prestasie besonders maak, is dat dit die Van der Watt-familie se oes van doktorsgrade op vier te staan gebring – nie iets wat ’n mens aldag teëkom nie. Beide haar ouers, Gideon en Ronél, en haar suster, Lize-Marié, het PhD’s – Gideon in teologie, Ronél in sielkunde en Lize-Marié in geskiedenis. Hulle is ook almal oud-Maties – Gideon en Ronél het hul meestersgrade aan die US voltooi en hul PhD’s aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

“Ek voel baie trots om my familie se naam te kan hoog hou. Ek besef ook hoe ongelooflik geseënd en bevoorreg ek was (en steeds is) om te kon studeer,” sê Van der Watt, wat tans aan die US se departement psigiatrie verbonde is.

“Ek het altyd grappenderwys van die ‘Van der Watt PhD-siekte’ gepraat en gesê ek gaan dit nie kry nie, maar nou ja, hier sit ons.”

Van der Watt se ouers sê hulle is baie trots op hul dogter se prestasie – veral haar harde werk en deursettingsvermoë. Hulle het ook groot waardering vir haar studieleiers en die departement psigiatrie vir die geleenthede wat vir haar geskep is.

Volgens Van der Watt was sy nooit onder enige druk om ook soos die res van haar gesin ’n doktorsgraad te verwerf nie.

“Ek is geseënd met wonderlike ouers wat my toegelaat het om my eie pad te vind en my eie ding te doen. Hulle was altyd baie ondersteunend. My gesin het my ongelooflik baie ondersteun en raad gegee hoe om oor die hond se stert te kom, hoe om die politiek van akademie te hanteer en om aan te hou bid.”

Van der Watt sê haar pad na die akademie was nie juis reguit nie. “Ek wou eintlik ’n Haute Couture-ontwerper word en het eers ’n drie-jaar-diploma (en een jaar internskap) in modeontwerp gedoen, asook kortkursusse en diplomas in onder meer geleentheids- en konferensiebestuur. Dinge het toe nie uitgewerk soos ek dit beplan het nie en ek is toe maar universiteit toe.

“Ná my meerstersgraad in sielkunde het ek die akademie verlaat en my in projek- en konstruksiebestuur begewe. Maar die akademiese gogga het weer gebyt en ek het toe prof. Soraya Seedat van ons departement psigiatrie se navorsingsassistent geword, en die res is geskiedenis.”

Van der Watt het in haar navorsing gekyk na die emosionele uitwerking (spesifiek posttraumatiese stresversteuring) van verbrokkelde liefdesverhoudings op ontluikende volwassenes (emerging adults). Ontluikende volwassenes is 18 tot 25 jaar oud.

Sy sê navorsing toon dat hierdie skeidings redelik traumaties kan wees, wat simptome veroorsaak soortgelyk aan dié wat ná fisieke of seksuele aanranding gesien word. Die kenmerke van hierdie skeidings (byvoorbeeld spesifieke redes waarom die verhouding beëindig is) kan ontluikende volwassenes aan ’n groter risiko blootstel om trauma te ervaar.

“Die erkenning van die traumatiese aard van die ervarings wat hiermee gepaard gaan, kan individue help om ondersteuning te soek en hul geestelike welstand te verbeter. Die bevindinge dui daarop dat die gebruik van trauma-gefokusde behandelings ondersoek moet word as moontlike nuttige terapie om die posttraumatiese stres-simptome wat verband hou met verbrokkelde romantiese verhoudings, onder ontluikende volwassenes te takel.”

Van der Watt sê sy moes self verbrokkelde liefdeverhoudings verwerk en die kommentaar wat sy gekry het, het haar gereeld laat voel asof haar pyn nie geldig is nie en haar gevoelens niks beteken het nie.

“Gevolglik is die seer, die breek in vertroue en die gevoel van nie goed genoeg wees nie, nooit werklik hanteer nie. Daar is maar net ’n pleister op die emosionele wond geplak. Op dié manier ontwikkel mense ’n wantroue en ’n ongesonde gehegtheid (insecure attachment) wat ander negatiewe gevolge het en toekomstige verhoudings kan belemmer. Ek het besef daar is so baie ander ontluikende volwassenes wat presies dieselfde deurmaak.”

Volgens Van der Watt kan haar bevindinge ontluikende volwassenes help om ongesonde gehegtheid te voorkom, om die negatiewe sirkel van slegte verhoudings te stop, en meer respek vir hul gevoelens te toon.

“Hulle is reeds onder soveel stres om hul pad te vind, ’n beroep te vind, ’n lewensmaat te vind. As dinge nie uitwerk nie, het hulle hulp nodig – die erkenning van hul gevoelens.”

Hoewel sy reeds die kruin van akademiese sukses bereik het, wil Van der Watt nog ’n meestersgraad in kliniese sielkunde doen en ook kliniese werk en navorsing kombineer.

“Ek wil bitter graag ’n trauma-gehegtigheidsgeoriënteerde intervensie (trauma-attachment-oriented intervention) ontwikkel vir ontluikende volwassenes wat sukkel om ’n liefdesteleurstelling te verwerk.

“Ek dink spesifiek aan ’n tipe langdurige kombinasie van blootstellingsterapie en breuk-herstel (rupture repair). Hiervoor het ek verdere onderrig, veral in terapie, nodig.”

Van der Watt beskryf haarself as ’n oop boek. “My gesig kon ook nog nooit iets wegsteek nie.” Sy sê mense is soms verbaas as hulle hoor sy hou van die Duitse heavy metal-groep Rammstein.

Benewens haar betrokkenheid by navorsingsprojekte in die departement psigiatrie is Van der Watt ook ’n vryskutredigeerder.

Wanneer sy ’n blaaskans kry, gaan sy gimnasium toe, speel tennis of besoek wynplase. Sy hou ook van bordspeletjies, lees, en televisiereekse kyk.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.