Die lyk van ’n man is op 5 Januarie deur ’n verbyganger in die Ertjieskloofdam bo Coetzenburg gevind. Die ontdekking volg op die vonds van nog ’n lyk op Woensdag 3 Januarie. Vandeesweek is ’n student se liggaam ook uit ’n Stellenbosch-dam gehaal nadat hy verdrink het.Foto: Francois Lombard


Die Universiteit Stellenbosch (US) se gemeenskap is vir die tweede agtereenvolgende week deur ’n dood geruk nadat ’n student verdrink het.

’n Student (19), vermoedelik van die manskoshuis Dagbreek, is Maandag (21 Oktober) gevind nadat hy die vorige dag by die Proefplaas-dam, Noord Wal-Oos gaan swem het. Volgens die Stellenbosch-polisie is die student se liggaam 09:05 gevind nadat hy vermoedelik reeds Sondag om 17:00 verdrink het.

Vandeesweek se verdrinking kom nadat twee mans vroeër vanjaar ook in die berggebied bo Coetzenburg in Stellenbosch, in Januarie gesterf het.

Stellenbosch-polisie het destyds geregtelike doodsondersoeke geopen na die dood van die twee mans in afsonderlike voorvalle op Woensdag 3 en Vrydag 5 Januarie. Die eiendom waar albei lyke deur verbygangers ontdek is, behoort aan die Universiteit Stellenbosch (US).

In die eerste geval was ’n man deur ’n stapper gevind waar hy aan ’n boom gehang het. Twee dae later het ’n verbyganger polisie in kennis gestel van ’n lyk wat in die Ertjieskloofdam dryf.

Geen misdaad was vermoed nie.

Stellenbosch-polisie het Maandag bevestig ’n geregtelike doodsondersoek is in die jongste voorval geopen. Die student was glo verbonde aan die fakulteit van wetenskap.

Mede-studente het hul medelye met die student se familie, vriende, en die gemeenskap van Dagbreek uitgespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.