Nóg ‘n motorfietsryer het ter nouerdood aan die dood ontkom nadat hy die afgelope Sondag (1 Junie) in die Franschhoekpas deur die lug geslinger is voordat hy in die kloof beland het en gered moes word.
Eikestadnuus het verlede week berig oor verskeie ongelukke in en om
Franschhoek waarin motorfietsryers in ‘n ernstige beseerde toestand gelaat is (“Motorfietsryers loop deur in ongelukke in Franschhoek”, 29 Mei).
Die Franschhoek-polisie het hierdie voorvalle bevestig.
Volgens Kurt Maske, ‘n ER24-paramedikus, wat die afgelope Sondag op die jongste ongelukstoneel was, het die motorfietsongeluk omstreeks 09:40 naby Jan Joubert’s Gat gebeur – dieselfde plek as dié van verlede week. Dit was ook ‘n superfiets.
Volgens Maske is dit moeilik om te bespiegel oor wat die ongeluk veroorsaak het, maar hy sê die motorfietsryer het vermoedelik vir ‘n aankomende motor uitgeswaai.
ER24 asook die metro-ambulansdienste
en Franschhoek First Responders, ‘n vrywilliger-organisasie wat in mediese noodgevalle hulp verleen, was kort ná die voorval op die toneel.
Volgens Maske is ‘n helikopter om hulp gevra om die motorfietsryer uit die kloof op te hys, maar dit was weens ‘n ander noodgeval op Tafelberg nie beskikbaar nie.
Maske en sy span is toe genoop om
tussen 30 en 40 meter met toue in die kloof af te seil, waar hulle die beseerde op ‘n draagbaar vasgemaak en teen die krans opgehys het.
Die motorfietsryer is vir verdere behandeling per ambulans na die Paarl-hospitaal geneem.
Volgens Jandré Bakker, ‘n
woordvoerder vir die Wes-Kaapse
departement van infrastruktuur, is
opknappingswerk aan die Franschhoekpas steeds aan die gang. Dit sal na
verwagting tot Februarie 2027 duur.