Rowers het Sondag 12 Oktober in die vroeë oggendure ‘n groepie mense wat by ‘n gasteplaas in Franschhoek gekuier het, oorrompel.
Kol. Frederick Rossouw, die bevelvoerder van die Franschhoek-polisie, het die voorval bevestig. Hy sê nog mense het Saterdagaand (11 Oktober) by ‘n ander perseel probeer inbreek.
“Ons kan bevestig ‘n voorval in die oggendure (12 Oktober) is aangemeld. Ek wil net benadruk dat die voorval Sondagnag ‘n huisrooftog is. Hoewel die rooftog op ‘n plaas gebeur het, is daar ‘n groot verskil tussen ‘n huisrooftog en ‘n plaasaanval,” sê hy.
“Dit was weer gaste wat op ‘n plaas wat gasteverhuring doen, gekuier het. Dit wil sê dit is ‘n sakeonderneming. Dit is nie meer ‘n plaas wat bedryf word nie. Daar was ook ‘n poging tot huisbraak. Die gepoogde huisbraak het voor 00:00 gisteraand (11 Oktober) gebeur.”
Rossouw het nie verder uitgebrei oor die eiendom wat gesteel is nie en sê in hierdie stadium kan geen beskrywing van die verdagtes bekend gemaak word nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die jongste voorval volg ná verskeie rooftogte en inbrake in en om Franschhoek die afgelope maande.
LEES OOK: Ondersoek na aanvalle op plase in Franschhoek sloer
In Augustus is ‘n man en vrou op die Chamonix-wynlandgoed-en-gasteplaas naby Uitkykstraat in Franschhoek kort ná middernag oorrompel – só erg dat hulle in die hospitaal opgeneem moes word.
In nog ‘n voorval, op 31 Mei, op die Val d’Or-landgoed in Hoofstraat, is ‘n soortgelyke modus operandi gevolg toe drie mans toegang tot ‘n wooneenheid verkry, die twee gaste aangeval en een in die been gesteek het.
In al die voorvalle is elektroniese toestelle en juweliersware gesteel.


