Nog ’n urineringsvoorval tref die Universiteit Stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch (US) is weer in die kollig nadat nog ’n urineringsvoorval verlede week by nog ’n manskoshuis gebeur het – dié keer toe ’n dronk student op sy kamermaat se besittings urineer het.


Die Universiteit Stellenbosch (US) is weer in die kollig nadat nog ’n urineringsvoorval verlede week by nog ’n manskoshuis gebeur het – dié keer toe ’n dronk student op sy kamermaat se besittings urineer het.

Die voorval was verlede Donderdag (22 September) in die vroeë oggendure by die Helshoogte-manskoshuis.

Die Helshoogte-koshuiskomitee het die voorval Saterdag in ’n verklaring bevestig en gesê die oortreder is tydelik uit die koshuis geskors hangende die uitkoms van ’n tugverhoor.

Luidens die verklaring het ’n student op sy kamervloer asook sy kamermaat se stoel geürineer. “Die voorval is kort daarna aan die Helshoogte-leierskap bekend gemaak, waarna gesprekke met die geaffekteerde partye, die huiskomitee en die koshuis begin het. Die oortreder is tydelik uit die koshuis geskors,” lui die verklaring.

Die voorval is luidens die verklaring dadelik bespreek en na die kantoor vir studentedissipline van die US verwys. “Die huis is (Donderag) 22 September om 17:00 persoonlik tydens vloervergaderings in kennis gestel, waar hulle die geleentheid gegee is om vrae te vra rakende die voorval en prosedures wat volg. Die betrokke inwoners het versoek dat hulle die geleentheid gegun word om op hul studies te fokus terwyl die ondersoek voortduur.”

“Die geaffekteerde student is in ’n deurlopende ondersteunende gesprek met die Helshoogte-leierskap en is na ’n nuwe kamer geskuif en sal deurlopende ondersteuning ontvang waar nodig. Die Helshoogte-leierskap het volle vertroue dat die prosedures wat ingestel is, die geaffekteerde student ten beste sal ondersteun.”

Die ondersoek word onderneem deur die Kantoor van studentedissipline by die US, en alle betrokke partye het hul volle samewerking belowe.

Die US het Vrydag (23 September) in ’n verklaring gesê menswaardigheid is ononderhandelbaar by die US en moet gerespekteer en gehandhaaf word. “Indien sodanige waardigheid aangetas is, moet dit op geregtelike wyse herstel word soos in die Universiteit se dissiplinêre raamwerk daarvoor voorsiening gemaak word.

“Die US is as goedbestuurde instelling daarvan oortuig dat geregtigheid en die reg sy loop moet neem en reëls moet te alle tye nagekom word om die belange en regte van die studente wat geraak en geïmpliseer word, te beskerm. Dit maak verdedigbare en volhoubare uitkomste moontlik,” het Prof. Deresh Ramjugernath, viserektor vir leer en onderrig, gesê.

Die US sê die voorval is onmiddellik aangemeld en geniet die hoogste aandag.

“Prof. Wim de Villiers, die US se rektor en visekanselier, sal verdere stappe oorweeg en oor skorsing uit die universiteit besluit nadat hy al die feite in die saak bestudeer het,” lui die verklaring.

Die saak sal deur die universiteit se Kantoor vir studentedissipline ondersoek word in ooreenstemming met die nuutste weergawe van die dissiplinêre gedragskode vir studente.

Prof. De Villiers het weer eens die universiteit se voorneme om in hierdie verband op te tree, bevestig. “Die universiteit beskou die details rakende die ondersoek as vertroulik, maar moet ook sy diepe kommer beklemtoon oor alkoholmisbruik wat op en rondom die kampus voorkom, ondanks sy uitgebreide ingrypings en die jongste hersiene koshuisreëls wat alkoholgebruik in koshuise beheer.”

Die US sê hy sal – soos en wanneer nodig – dadelik verdere inligting verskaf oor die uitkoms van die ondersoeke en die prosesse wat aan die gang is.

Die US Studenteraad (SR) het die huiskomitee geloof vir sy vinnige optrede met die voorval en gesê hulle verwelkom die koshuiskomitee se besluit.

“Die insident is ’n herinnering aan wat vier maande gelede gebeur het, en as die SR veroordeel ons ten sterkste dat hierdie gedrag ons realiteit is. Dit is demotiverend vir die studentegemeenskap wat onverpoosd werk om programme te ontwikkel en gesprekke te voer in ’n poging om die kultuur van blatante ongeregtigheid by die US te transformeer en teë te staan. Ons daag alle koshuise uit om hul koshuiskulture deur middel van doelbewuste besinning en eerlike besprekings krities te evalueer,” sê die SR.

Die SR doen ’n beroep op die breër studentegemeenskap om die universiteit se amptenaar toe te laat om ’n deeglike en deursigtige ondersoek te doen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.