Nog ’n verdagte vas in Jesse Mitchell-saak

Die Stellenbosch-polisie het nog ’n verdagte in hegtenis geneem in verband met die dood van die Matie-student Jesse Mitchell.


Die Stellenbosch-polisie het nog ’n verdagte in hegtenis geneem in verband met die dood van die Matie-student Jesse Mitchell.

Die plaaslike polisie het inligting ontvang oor ’n verdagte wat vermoedelik in besit was van die rugsak, skootrekenaar en beursie van die 19-jarige Mitchell, wat Woensdag 16 Oktober in die vroeë oggendure op sy verjaarsdag doodgesteek is.

Mitchell was op sy fiets op pad huis toe na die Nooitgedacht-woonstelle toe hy glo oorrompel en beroof is.

Rudolf Hufke is in verband met Mitchell se dood aangekeer (“Matie se steekmoord wek kommer”, Eikestadnuus, 24 Oktober). Hy het reeds in die plaaslike hof verskyn.

Stellenbosch-polisiebeamptes verbonde aan misdaad-intelligensie het die afgelope Vrydag (22 November) ’n 32-jarige man van Pretoria na Kaapstad en Stellenbosch vir ondervraging gebring.

Die verdagte was in besit van die rugsak wat aan Mitchell behoort het en is Maandag (25 November) vir diefstal, wat by die moordsaak gevoeg sal word, aangekeer.

Hy sou na verwagting gister (Woensdag 27 November) in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.

  • Die ondersoek duur voort. Die polisie versoek enigiemand met inligting om die Stellenbosch-polisie by 021 809 5015 of die ondersoekbeampte AO Kelvin Moses by 082 559 4646 te bel.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.