Voormalige werkers van Nooitgedacht staan saam met die span wat gewerk het om vir hulle huise in Klapmuts te bou. Foto: Yaël Malgas


Vragmotors – hoog gepak met meubels – het Dinsdag (18 Februarie) in Merchantstraat, Klapmuts, gestop om die huisgoed van voormalige werkers van die Nooitgedacht-wynlandgoed af te lewer.

Vyftien huise is amptelik aan voormalige werkers oorhandig nadat Migal Wirth en die res van die familie besluit het om werkers hul eie wonings te gee. Wirth het langer as vyf jaar gewerk om ’n kleinhoewe in Klapmuts in behuising om te skep.

Nou spog oud-Nooitgedacht-werkers soos die 59-jarige Johannie Petro met sy eerste huis. Hy was vir 25 jaar ’n drywer op die plaas. “Dit is ’n blye dag, want ek sou nooit ’n huis van my eie kon bekostig nie,” sê Petro.

Joseph Alexander (70) sê hy het Migal en sy sibbe sien grootword en dit is besonders dat die familie in sy toekoms belê het. “Ek het hulle op my skouers rondgedra en nou seën die Here my deur hul hande. Ek het 40 jaar terug vir sy ouma begin werk en dit was die mooiste werk wat ek kon doen – om tuinier te wees is ’n gawe van God,” verduidelik Alexander.

Hy woon nou saam met sy vrou en kleinseun (25) in Klapmuts. Die man met die groenvingers sê hy het reeds planne vir sy nuwe tuintjie.

Die behuisingsprojek was egter nie sonder struikelblokke nie. Wirth meen hy sou nooit die bou van die huise kon voltooi sonder projekbestuurder Lindsay Adonis, Judy Ferdenando, en Hadley Harris van CH Harris Property Managing, nie.

Harris, direkteur van eiendom ontwikkeling, verduidelik dit was belangrik om die eienaars met waardigheid te hanteer. Hy sê hoewel die begroting vir elke woning gelykstaande aan ’n Hop-huis is, wou hulle meer moderne huise bou. Daar was egter sommige begunstigdes wat veel te sê gehad het oor die bouwerk, maar die span het kopgehou en al die draadjies is saamgetrek. “Dit is nie elke dag dat ons ’n staatsdepartement ’n pluimpie gee nie, maar ons het goed met die Stellenbosch-munisipaliteit saamgewerk,” sê hy.

Begunstigdes kon nie intrek alvorens die elektrisiteit gekoppel was nie en ná maande se gesukkel het Adonis Vrydag die goeie nuus ontvang dat daar elektrisiteit was. “Hierdie projek was soos ’n roller coaster. Die families het gereeld kom kyk hoe die bouwerk vorder en het baie kommentaar gehad, maar ten spyte van alles is hulle gelukkig met die eindproduk en diegene wat die meeste gekla het, het eerste ingetrek,” vertel hy skertsend.

Saam met hul nuwe bate is die begunstigdes ook geleer wat presies hul regte en verantwoordelikhede as huiseienaars is. Ferdenando het nou met die begunstigdes saamgewerk om seker te maak al die nodige administrasie is gedoen om hul eiendom te bekom. Dit het ure van vorms invul behels en om sessies by te woon waar die gesinne verduidelik is hoe om vir ’n munisipale-deernis-toelae aansoek te doen. “Vir die begunstigdes is dit die eerste keer dat hulle eiendom besit. Hulle gaan van ’n situasie waar hulle geen uitgawe vir verblyf gehad het nie en nou moet hulle vir water en elektrisiteit betaal. Dit is gewis ’n kopskuif wat gemaak word,” vertel sy.

Hulp is ook van die Stellenbosch-regskliniek verkry om seker te maak die begunstigdes se testamente is in orde.

Ella “Nellie” Swartz het vir langer as vier dekades op Nooitgedacht gewerk en sê sy is baie tevrede met haar nuwe huis. Dié 73-jarige het die afgelope naweek ingetrek en sê Klapmuts-inwoners is vreeslik vriendelik. Hulle komplimenteer die bome wat sy reeds in haar erf geplant het. Nellie sê sy is dankbaar vir Wirth “wat ek grootgemaak het” en die familie.

You need to be Logged In to leave a comment.