Die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n belangrike mylpaal bereik met die aankondiging dat die Departement moderne vreemde tale pas danksy ’n ooreenkoms met die Spaanse regering ook Spaans by sy kurrikulum gevoeg het.
Die US en Spaanse amptenare het in Desember ’n memorandum van verstandhouding onderteken om die totstandkoming van ’n Spaans-lektoraat aan die universiteit te formaliseer.
Prof. Wim de Villiers, US-rektor en -visekanselier, het by dié geleentheid die samewerking as ’n deurslaggewende oomblik vir kulturele en opvoedkundige uitruiling beskryf.
“Die memorandum van verstandhouding bevorder die US se doelwit om wêreldwyd netwerke te bou en nuwe vennootskappe aan te moedig. Deur Spaans te leer, maak nie net deure na ’n ander taal oop nie. Geleenthede word ook geskep wat studente aanmoedig om by die kulture van talle Spaanssprekende lande die wêreld oor – van Europa tot Latyns-Amerika – betrokke te raak. Dit is ’n beduidende ontwikkeling vir die Departement moderne vreemde tale,” het hy gesê.
Jesús Silva, Spaanse konsul-generaal in Kaapstad, het ’n boodskap van dank en gelukwensing namens die Spaanse regering oorgedra. “Die ondertekening van die memorandum tussen die US en die Spaanse regering sluit ’n bykans twee jaar lange proses af om ’n Spaans-lektoraat aan hierdie prestigeryke akademiese instelling te vestig. Dit bring buiten taal ook kultuur en kuns van die Spaanssprekende wêreld – ’n gemeenskap van 500 miljoen mense – en dus ruim geleentheid tot groter kennis en intellektuele rykdom.”
Raimundo Robredo Rubio, die Spaanse ambassadeur in Suid-Afrika, het ook sy dank teenoor die US uitgespreek. “Dit is ’n belangrike bydrae ter versterking van ons bilaterale verhouding. Stellenbosch is van die min universiteite wêreldwyd wat gekies is om vanjaar ’n nuwe lektoraat te vestig,” het hy gesê.
Om Spaans aan die departement te vestig, was volgens prof. Catherine du Toit, voorsitter van die Departement moderne vreemde tale aan die US, ’n lewenslange droom. “Spaans is die taal wat wêreldwyd die tweede meeste as moedertaal gepraat word, met ’n aansienlike aantal sprekers in sowel Spanje as Latyns-Amerika. Dit is van kardinale belang dat studente betrokke raak by ’n taal met ’n wydverspreide en groeiende invloed op die wêreldverhoog. Doeltreffende, outentieke menslike kommunikasie is in ’n tyd van globalisering uiters belangrik,” het Du Toit gesê.
Sy het ook die ekonomiese belang van die samewerking beklemtoon. “Die Spaanssprekende wêreld, veral Latyns-Amerika, is die tuiste van opkomende ekonomieë. Vaardigheid in Spaans kan tot groot voordeel strek vir jong gegradueerdes wat op soek is na geleenthede in internasionale besigheid, handel en samewerking. Kennis van Spaans kan in die besonder voordelig wees vir studente wat belangstel in loopbane wat met tegnologie verband hou– veral in markte waar Spaans oorheers.”
Met die integrasie van Spaans in die akademiese aanbiedinge sal nie net gefokus word op taalvaardigheid nie, maar ook kulturele diversiteit en kontemporêre letterkunde, het Du Toit verduidelik. “Kontemporêre Spaanse letterkunde weerspieël die diverse kulture en ervarings in die Spaanssprekende wêreld. Skrywers van verskillende Spaanse lande dra by tot ’n ryk tapisserie van narratiewe waarby moderne lesers aanklank vind.”
Du Toit het gesê ’n Spaans-lektor sal die departement in staat stel om meer momentum te gee aan die bestaande openbare program vir Spaans-aandklasse aan die US. “Spaanse letterkunde en rolprente sal ook deel wees van ons toekomstige MA in Vergelykende Letterkunde. As alles vlot verloop, hoop ons om Spaans later in ons amptelike voorgraadse kurrikulum in te sluit, wat in pas sal wees met die taal se globale relevansie, kulturele diversiteit en ekonomiese belang. Namate studente en kollegas met die taal te doen kry, sal dit nie net hul kulturele en linguistiese vaardigheid verbeter nie, maar hulle ook vir ’n mededingende voordeel in die hedendaagse arbeidsmark posisioneer,” het Du Toit gesê.
Ten slotte het Du Toit die konsul-generaal bedank vir die inisiëring van samesprekings met die betrokke departement wat die totstandkoming van ’n Spaans-lektoraat betref. “Ons bedank ook prof. De Villiers vir sy entoesiastiese aanmoediging en die viserektor vir strategie, globale en korporatiewe sake, prof. Hester Klopper, vir haar ondersteuning en bydrae tot hierdie projek. Laastens bedank ons sy edele die ambassadeur Raimundo Robredo Rubio vir die fasilitering van die proses en sy koms na Stellenbosch vir die ondertekening van die memorandum van verstandhouding,” het Du Toit gesê.