’n Beurs van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, ook bekend as NSFAS, wat veronderstel was om ’n student se lewe te verander, het in ’n nagmerrie ontaard.
Só sê Renaldo Booysen, ’n Stellenbosse onderwysstudent van Beaufort-Wes, aan Eikestadnuus nadat die skema hom en duisende ander glo reeds verlede jaar in die steek gelaat het.
NSFAS was verlede jaar gereeld in die nuus nadat dié glo vier maatskappye, vermoedelik sonder enige banklisensies of rekord, aangestel het om studente se maandelikse toelae uit te betaal.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (OUTA) het verlede jaar groot kapsie hieroor gemaak, wat later tot verskeie formele ondersoeke gelei het.
In ’n verslag van die prokureursfirma Werskmans is bevind dat die skema se uitvoerende hoof, Andile Nongogo, oneties opgetree het nadat hy glo die maatskappye met die hand uitgesoek het.
In die verslag word Nongogo se kop en die beëindiging van die kontrak met die vier maatskappye geëis.
Studente aan die Universiteit Stellenbosch moes gebruik maak van die maatskappy Coinvest vir hul toelaes.
Hierdie toelaes word deur studente gebruik om kos en ander noodsaaklikhede te koop.
Talle studente kon egter nie registreer om hul toelaes te kry nie. Booysen sê hy is een van hierdie studente. “Dis ’n nuwe jaar en steeds het NSFAS nog nie my geld uitbetaal nie.
“Ek voel ons word baie onregverdig deur NSFAS behandel.
“Baie van ons kom uit omstandighede waarin ons nie in staat is om hier finansieel te oorleef nie,” sê hy.
Booysen se studiegeld vir 2023 is ook nie volledig betaal nie.
“NSFAS het slegs R65 000 van my studiegeld betaal. Altesaam R54 000 is nog uitstaande,” sê hy.
’n Regstudent aan die US het op voorwaarde van anonimiteit aan Eikestadnuus vertel hy sit met sy hande in sy hare oor studieskuld.
“Dit maak my angstig omdat ons nie weet wat met daai skuld gebeur en of ons dit self gaan moet betaal nie, want ons ouers het geteken toe ons by die US registreer dat hulle verantwoordelik is vir ons studenterekening,” het hy gesê.
’n Vrouestudent wat ook anoniem wil bly, het aan Eikestadnuus vertel sy vrees om by haar private verblyf uitgeskop te word. “Ek sukkel regtig met huurgeld; ek weet nie vir hoe lank nie, want ek weet nie of NSFAS my huur gaan betaal nie.
“My ma skraap reeds alles wat sy kan bymekaar om my te help. Hierdie is nie ’n lekker ding om deur te gaan nie, veral omdat ek die US meer as R200 000 skuld vir verlede jaar se uitstaande balans en vanjaar se kostes.
“Ek weet nie wat met my gaan gebeur nie, maar ek vertrou op God,” het sy gesê.
Volgens Martin Viljoen, ’n US-woordvoerder, is die universiteit bewus van die situasie oor uitstaande geld en werk glo daaraan.
“Die US is bewus van studente wat nie toelaes ontvang het nie, en ons werk daaraan om dit so gou as moontlik op te los,” het hy gesê.
Viljoen het ook gesê die US het reeds verskeie stappe geneem om studente te ondersteun.
Intussen het NSFAS die media Maandagoggend (4 Maart) op ’n mediakonferensie in Pretoria oor sy gereedheid vir die 2024- akademiese jaar ingelig, maar geen woord oor uitstaande geld geuiter nie.
Volgens NSFAS se waarnemende raadsvoorsitter, prof. Lourens van Staden, het die skema universiteite gevra om intussen studente se toelae vir Februarie en Maart te betaal, waarna die skema sal terugkeer na die vier maatskappye om die proses verder te neem.
Die NSFAS-woordvoerder Thsolofelo Zweni wou nie Eikestadnuus se vrae oor die 2023-toelae beantwoord nie.