Inwoners van Cloetesville het op Menseregtedag (Vrydag 21 Maart) byeengekom om hul reg op ‘n veilige omgewing te bespreek en planne te beraam om die voortspelende geweld in die buurt hok te slaan.
Die gemeenskapsvergadering by die Eike-gemeenskapsaal het talle inwoners gelok. Inwoners, buurtwaglede, gemeenskapsaktiviste, politici en beamptes van die Cloetesville-polisie het onder meer gevra dat meer inligting uit die gemeenskap na die polisie deurgegee word om daadwerklike optredes teen kwaaddoeners te bewerkstellig.
Volgens lt.kol. Monique Fortuin, stasiebevelvoerder, kan die polisie nie alleen misdaad bekamp nie. Ten spyte van inhegtenisnames is daar gevalle waar geen ooggetuies bereid was om na vore te kom nie. Dit belemmer die afhandeling van sake. “Indien ons die skieters uit die gemeenskap haal, sal ons minder moorde kry,” sê Fortuin.
Benewens die voortspelende bendegeweld het inwoners hulle ook uitgespreek oor die sosiale probleme wat hulle ervaar.
Oplossings gesoek
Betty Niewoudt van die plaaslike maatskaplike organisasie Stelsorg het vertel van ouers wat hul kinders in die dorp laat bedel, ouers wat nie teen hul jong moeilikheidmakers optree nie en die organisasie se strewe om hulp te bied.
Uit die gehoor was daar ‘n voorstel vir vaardigheidsprogramme vir jongmense om as ‘n teenwig te dien vir die finansiele sekuriteit wat bendes aan armes kan bied. Die vestiging van ‘n groentetuin en ouers wat verantwoordelikheid vir hul kinders se wangedrag moet neem, is ook genoem. Die plaaslike drankwinkel moet ook volgens inwoners gesluit word aangesien drankmisbruik tot kontakmisdrywe lei.
Gemoedere het by tye hoog geloop. Benewens bewerings dat die polisie en bendes saamwerk, was daar ook diegene wat meen dit is nie so eenvoudig om inligting aan die polisie te verskaf wanneer jy tussen die misdadigers woon nie. Volgens een inwoner blyk dit die Cloetesville-polisiekantoor is eenvoudig waarheen bevelvoerders kom om op te beweeg in die range, wat beteken geen kontinuïteit in terme van misdaadbekamping vind plaas nie.
Sharon Davids, ANC LP, het teruggekap en gevra inwoners moet liewer met oplossings na vore kom. “Weet julle hoekom is Joshlin [Smith] van Saldanha nog nie gevind nie? Dit is omdat ‘n gemeenskap gedink het hulle kan polisie speel. Niemand van ons het die opleiding wat hulle het om hul werk te doen nie. Wat ons wel kan doen, is om saam met hulle te werk.”
Terugvoer oor eise
Fortuin en talle gemeenskapslede het benadruk dat misdadigers maklik uitgeken kan word, maar “as hy my vriend is, gaan ek nie worry om te praat nie”.
Fortuin het ook ‘n droewige prentjie oor plaaslike misdaad geskets. Gevalle van moord, poging tot moord en rooftogte die afgelope drie maande van 2025 is byna dieselfde as die getal gevalle wat verlede jaar aangemeld is. Terugvoer oor die eise wat gemeenskapslede in Mei 2024 in ‘n memorandum aan die polisie oorhandig het, is ook gegee.
Inwoners, as deel van Peace for Cloetesville, het onder meer gevra vir meer voetpatrollies, die gebruik van hommeltuie en dat die teen-bende-eenheid teruggebring word. Hierop het Fortuin verduidelik optredes in samewerking met die Openbare Orde Polisiëring (Pop) en misdaadintelligensie word gereeld gedoen en lewer sukses.
“Hommeltuie is effens van ‘n strukkelblok aangesien die operateurs en die hommeltuie binne ‘n sekere afstand van mekaar moet wees . . . Hulle kan nie by die polisiekantoor staan en ‘n hommeltuig in Smartie Town beheer nie.”
Die kantoor het wel hommeltuie wat gebruik word.
‘n Organiseerder van die geleentheid, Tessa du Toit, sê sy glo Vrydag se vergadering was die begin van ‘n nuwe hoofstuk.