Paul Roos Gimnasium (PRG) spog elke jaar met ’n indrukwekkende kultuurprogram. Dié program kry veral lewe in die tweede helfte van die jaar – wanneer PRG se Toneelweek, ’n jaarlikse musiekblyspel, klassieke uitvoerings, sowel as die gewilde PRG-musiekfees plaasvind.
Met die begin van die derde kwartaal het die tyd aangebreek vir PRG se eerste kultuurgeleentheid van die jaar – die PRG-toneelweek. Dit sluit die aanbied van twee toneelstukke van gehalte in en word in aanloop tot die land se grootste tienertoneelkompetisies aangebied. Dit gee PRG se produksiespanne die geleentheid om hul toneelstukke voor gehore te slyp voor hulle teen van die land se beste toneelgroepe in kompetisies soos die Klein Libertas-toneelfees, Fraserburg Logan-toneelfees, Hoërskool Durbanville-toneelfees en die ATKV-Tienertoneelkompetisie meeding.
PRG se Toneelweek vind Dinsdag 25 Julie en Woensdag 26 Julie plaas. Albei toneelstukke, Broers en Valdeur, is nuutskeppings en die regie word deur twee PRG-onderwysers en teaterkenners, Jan-Hendrik Opperman en Brink Nelson, behartig.
Broers
’n Ongeluk keer ’n oudste broer se wêreld om. Groot besluite moet geneem word, maar die verskeie invloede help nie juis nie. Aanvaar, verander of onttrek? Dit bly Gideon se grootste vraag. Dramaturg: Esmé de Wet. Regie: Jan-Hendrik Opperman. Akteurs: Joshua Andreas Kritzinger, Dieter de Kock, Ian Lubbe, Paul Badenhorst, Liam Clarke en Kobus Kotze.
Valdeur
Oor die generasies word name oorgedra. Is dit ’n goeie of ’n slegte ding? ’n Groep vriende werk aan ’n taak en ontdek geheime van hul herkoms. Maar iets het by die valdeur gebeur. Hoe sal dié voorval die intrige beïnvloed? Wie is Niël Burgert van Dijk werklik, oftewel, wie wil hy wees? Dramaturg: Esmé de Wet. Regie: Brink Nelson. Akteurs: Daniël Prinsloo, Steffan Thielen, Fanie Wessels, Altus du Plessis, Zac Theron, Chris van den Berg en Francois Odendaal.
Albei produksiespanne is opgemaak uit Paul Roos-leerders en albei produksies word op 25 Julie om 19:00 en 26 Julie om 18:00 in die Japie Krige-saal (PRG) opgevoer. Dinsdag 25 Julie se vertoning is slegs vir skoolleerders. Kaartjies kos R20 vir leerders en R50 vir volwassenes en is by die deur teen kontant, Snapscan of kaartbetalings en by Quicket beskikbaar.