’n Nuwe forum om ’n beter toekoms vir Cloetesville te bewerkstellig, is onlangs op die been gebring.
Die forum, Transformeer Cloetesville Tesame (TCT), het sy eerste amptelik vergadering verlede Woensdag (30 November) gehou om die pad vorentoe te bespreek en planne vir dié buurt se toekoms te beraam.
“Sowat 64 leiers uit Cloetesville het Saterdag 15 Oktober saamgetrek om hul steun te verleen om ’n beter toekoms vir Cloetesville te verseker. Die inisiatief spruit uit ’n visie van mense wat vir Cloetesville omgee. Die gebied word tans erg geraak deur onder meer bendegeweld, en hierdie mense wil ’n positiewe bydrae tot die omgewing lewer,” sê Carol Lakay, die mediaskakel vir TCT.
Leiers is onder die leiding van dr. Braam Hanekom van die Sentrum vir Openbare Getuienis gekies om aan die stuur van sake te staan om verandering te bewerkstellig.
“Die groep se idees is op ’n werksessie uitstekend deur Juanita Jacobs gefasiliteer. Ons het eenparig besluit op die visie en die naam Transformeer Cloetesville Tesaam / Transform Cloetesville Together – kortweg TCT,” voeg Lakay by.
“Die visie vir die platform is: ’n Verenigde Cloetesville wat saamwerk deur hoop en bemagtiging as doelstellings om ’n vreedsame, respekvolle en volhoubare gemeenskap te skep.”
Tans is TCT besig met registrasie as ’n wettige organisasie met die volgende struktuur:
Direkteure: Clive Jacobs, Kauthar Adams en Malena Fourie, die stigter.
Gekose ampsdraers:
Voorsitter: Valerie Fernandez, met Marthinus Groenewaldt as adjunkvoorsitter.
Tesourier: Kevin Jooste, met Edward Crowley as adjunk-tesourier.
Sekretaresse en mediawoordvoerder: Carol Lakay, met Stefan Smith wat haar bystaan.
Projekkoördineerder: Stefan Smit, met Magdalene Blankenberg as assistentprojekkoördineerder.
Lakay sê dié groep se doelwitte sal wees om aandag aan die volgende knelpunte wat op die vergadering in Oktober opgestel is, te skenk:
. Die daarstelling van ’n veeldoelige sentrum;
. aandag moet geskenk word aan waardes binne die gemeenskap;
. die behoeftes van veral jong mense;
. samewerking tussen die verskillende groepe in die gemeenskap;
. aanpak van bendegeweld;
. die afwesigheid van leierskap en visie; en
. die skep van veilige ruimtes vir almal.