Die Klapmuts-ontwikkelingsforum is in 2019 op die been gebring nadat die behoefte aan so ’n forum ontstaan het. Hulle kon dit weens die Covid-19-pandemie nie toe bekend stel nie.Foto:


Ontwikkeling in Klapmuts word deur ’n nuwe lens gesien danksy die bekendstelling van die Klapmuts-ontwikkelingsforum wat Vrydag 25 Maart onthul is.

Die Klapmuts-ontwikkelingsforum (Kof) is in 2019 op die been gebring nadat die behoefte aan ’n forum ontstaan het. Hulle kon dit egter weens die Covid-19-pandemie nie bekend stel nie. Dit is bevind dat meer as 30 ondernemings in Klapmuts nie die ondersteuning van ’n soortgelyke forum gehad het nie, daarom was die doel om die ondernemings te orden sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik.

“Ons kantoor is by die Klapmuts-sportterrein. Die Kof se uitvoerende raad word deur doodgewone mense bedryf, wat vrywillig saamwerk om saam met alle rolspelers te verseker dat Klapmuts ’n veiliger en beter gemeenskap vir almal is,” het Michelle Maluqua, die ondervoorsitter van Kof, gesê.

Kof is ’n nieregeringsorganisasie en is afhanklik van borge en skenkings en word deur Ranyaka Community Transformation, Stellenbosch Bridge sowel as Klein Goederust in Franschoek ondersteun.

“Ons slagspreuk is: Mense wat saamwerk vir volhoubare ontwikkeling.”

Maluqua sê Kof tree in gesprek met ondernemings, ontwikkelaars en verskeie rolspelers om by te dra tot die ontwikkeling van Klapmuts. “Een van ons doelwitte is om entrepreneurskap-programme vir ons jeug te ontwikkel.”

Die Klapmuts-ontwikkelingsforum se uitvoerende raad bestaan uit Elliot Bikwana (voorsitter), Michelle Maluqua (ondervoorsitter), Donavan Davids (sekretaris), Juanita Engelbrecht (hulpsekretaris) en Jeremy Maluqua (tesourier).

Onder die gaste wat die geleentheid bygewoon het, was verteenwoordigers van Stellenbosch Bridge, Ranyaka Community Transformation, Rozetta du Toit en JC Anthony (raadslede) en Paul Siqua van Klein Goederust wat ook die geleentheid bygewoon het. Die gaste is deur Berenice Snyman en Courtney du Preez van Klapmuts vermaak.

You need to be Logged In to leave a comment.