Nuwe forum wil sake stu

Die Stellenbosch-besigheidsforum, wat plaaslike sake-eienaars ’n platform bied om hul bekommernisse uit te spreek, netwerkbedrywighede te beoefen en oplossings te soek om hul bedryfsgebied te verbeter, is verlede week van stapel gestuur.


Die Stellenbosch-besigheidsforum, wat plaaslike sake-eienaars ’n platform bied om hul bekommernisse uit te spreek, netwerkbedrywighede te beoefen en oplossings te soek om hul bedryfsgebied te verbeter, is verlede week van stapel gestuur.

Omtrent 100 sake-eienaars van dié dorp het Woensdagaand (7 Februarie) in die Doornbosch-saal vir die amptelike bekendstelling van die besigheidsforum byeengekom.

Die geleentheid het sake-eienaars ook die kans gebied om netwerkbedrywighede te beoefen en met gelyke individue uit verskeie bedryfsektore te meng.

Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut in die Wes-Kaap en die George-sakekamer, het die hooftoespraak gelewer en die belangrikheid van sakekamers as ’n verteenwoordiger van die sakegemeenskap beklemtoon. “ ’n Sakekamer dra baie krag; dit is die stem van sakelui,” het hy gesê.

“Daar is vier pilare waarna sakekamers streef – dit moet die belange van sy lede beskerm; dit moet lede adviseer en inligting versprei; dit moet behoorlik kan kommunikeer; en dit moet netwerkbedrywighede moontlik maak. ’n Sakekamer moet sy lede, volgens sy mandaat, op alle vlakke van regering verteenwoordig.”

Die tussentydse bestuur van die Stellenbosch-besigheidsforum, wat vir die volgende jaar aan die stuur van sake sal wees, is ook aan die gaste bekendgestel. Hulle is Flip Liebenberg (voorsitter), Kobie van Breda (ondervoorsitter), Joris Jacobs (tesourie), Dawn van Wyk (sekretaris) en dr. Colin Price (strateeg).

Die byeenkoms is goed bygewoon – ’n sterk aanduiding dat die Stellenbosch-besigheidsforum amptelik tot stand gebring is – en ledewerwing is in volle gang.

“Ons dryfveer is die deurlopende agteruitgang van die omgewing waarin ons sake doen en leef, hoe ons verwyder en uitgesluit is in die transformasie van ons ekonomiese omgewing en die fisiek ondeurdagte ontwikkeling van Stellenbosch wat die kultuur en omgewing skaad,” het Liebenberg in sy toespraak gesê.

“Weldeurdagte ruimtelike beplanning en ontwikkeling is noodsaaklik vir gesonde groei. Ons doel is om die gaping tussen plaaslike sakeondernemings, die regering en die inwoners van Stellenbosch te oorbrug om ’n pad vir voorspoed en opheffing van die streek te skep.

“Ons fokus moet skuif van ‘wat kan die regering vir my doen’ na ‘wat kan ek vir my gemeenskap doen’. Dis basies ’n kopskuif van hoe om verandering vanuit die gemeenskap vir die gemeenskap te bewerkstellig en hoe sakeondernemings en inwoners hande kan vat en ’n invloed in ons plaaslike regering kan hê sodat die gemeenskap voorop staan en sy belange voorrang geniet.”

Prince het op sy beurt die rasionaal rakende ’n besigheidsforum vir Stellenbosch gedeel, asook die voordele wat dit vir sy lede inhou.

“Dit bied ’n platform vir sakeondernemings om netwerkbedrywighede te beoefen, idees te deel en om saam aan inisiatiewe wat die plaaslike ekonomie bevoordeel, te werk. Dit dien ook as ’n platform vir munisipale amptenare om die insette van sakeleiers op beleide en regulasies wat die sakegemeenskap raak, in te vorder. ’n Besigheidsforum dien ook as meganisme om die dorp as ’n lewendige en aantreklike plek om sake te doen, te bevorder, wat op sy beurt nuwe beleggings en talent kan lok. In geheel help ’n sakekamer om ’n dorp as ’n gesonde en dinamiese sake-omgewing te bevorder.”

Die voordele van die sakekamer sluit in lede se bydrae tot werkskepping, geleenthede om sakeondernemings te laat groei en ’n platform om plaaslike ekonomiese uitdagings te bespreek en die hoof te bied sowel as strategieë wat werksgroei ondersteun, te ontwikkel, het Prince bygevoeg.

Die Stellenbosch-besigheidsforum se sleutel- fokusgebiede sal voorspraak, netwerking, sakeondersteuning, ekonomiese ontwikkeling, gemeenskapsbetrokkenheid, inligting en navorsing sowel as bemarking en promosie wees.

’n Beroep is op gaste en ander sakelui in Stellenbosch gedoen om as lidmate by die sakeforum aan te sluit.

  • Nog inligting en aansoekvorms kan by info@stellenboschbusinessforum.org.za verkry word.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.