’n Nuwe informele handelsruimte is op 1 Junie in Klapmuts geopen en bied ’n veilige, skoon en gestruktureerde omgewing waar dié dorp se entrepreneurs en handelaars sake kan doen.
“Dit moedig ekonomiese aktiwiteit aan en lok handel na die gebied. Dit is reg langs die moderne Klapmuts- veeldoelige gemeenskapsentrum ingerig en is oorkant die pad van die nuwe Klapmuts-taxistaanplek, wat verlede jaar deur die munisipaliteit geopen is,” het Stuart Grobbelaar, woorvoerder van Stellenbosch-munisipaliteit, gesê.
Die handelsperseel is ’n belegging vir Klapmuts se inwoners en bied ’n verskeidenheid produkte waarmee handel gedryf word.
“As burgemeester is dit vir my uiters belangrik om dié soort ruimtes en geleenthede te skep waar ondernemings kan floreer – veral kleinsakeondernemings en entrepreneurs. Dis waar ons werk skep en dis hoe ons die plaaslike ekonomie stimuleer. Dit is uiters belangrik dat ons geleenthede skep waar inwoners kan handel dryf en mekaar kan ondersteun,” het Gesie van Deventer, burgemeester, by die opening van die informele handelsperseel gesê.
Van Deventer en die wyksraadslid JC Anthony het inwoners, handelaars en gemeenskapsleiers aangemoedig om ten volle eienaarskap van die perseel te neem. “Dit is deur die munisipaliteit opgerig, en die dienste word deur die munisipaliteit voorsien, maar dis nou die publiek se fasiliteit – pas dit op, hou dit skoon, meld enige misdadige aktiwiteite en vandale wat wil vernietig wat die munisipaliteit en publiek gebou het, summier aan,” het Van Deventer gesê. . Vir nog inligting oor die verkryging van ’n stalletjie en kontrakte met handelaars, kontak die Stellenbosch-munisipaliteit se plaaslike ekonomiese ontwikkelingskantoor.