“Geel en koningsblou, aan jou bly ek getrou!”
Só sê die nuwe skoolhoof, Anton Gordon, van Idasvallei Primêr (IVP) trots terwyl hy ’n gedeelte van die skoollied aanhaal van die skool waar hy die afgelope 29 jaar skoolhou.
Gordon is in Idasvallei gebore en getoë en het by Bruckner de Villiers Primêr en Hoërskool Lückhoff skoolgegaan voordat hy sy onderwysdiploma in 1988 aan die Onderwyskollege Athlone in Paarl voltooi het. Hy het sy hoëronderwysdiploma in 1995 en sy onderwysgraad in 2004 voltooi.
Sedertdien het hy De Tuine Sekondêr in Walvisbaai, Namibië en Ocean View Sekondêr in Kaapstad skoolgehou voordat hy in 1994 by Idasvallei Primêr aangesluit het.
“Ek beskou my aanstelling as hoof van IVP as ’n Goddelike voorreg. Dis ’n eer om die kinders en die gemeenskap van IVP te dien,” sê Gordon.
“Dit is ’n uitdaging wat ek wil aanpak en waarvan ek ’n sukses wil maak. Ek wil graag die skool met die hulp van God, die skoolbeheerliggaam, leerders en ouers tot die volgende vlak van uitnemendheid neem.”
Hy is dankbaar vir die skoolbeheerliggaam se vertroue in hom en wil graag voortbou op die sukses van vorige skoolhoofde.
Buiten sy lewe by die skool sê Gordon hy is ’n gesinsman en bestee sy vrye tyd saam met sy vrou en seuns, Cantona en Azariah.
“Ek is lief vir my familie en vir God. Ek is betrokke by die kerk en doen gereeld aktiwiteite saam met my gesin. Hulle is my steunpilare en beteken alles vir my.”
Gordon sê nog ’n mylpaal word vanjaar behaal deurdat sy oudste seun, Cantona, sy eerste jaar as onderwyser begin. “Ek is bevoorreg om saam met my seun by dieselfde skool waar hy ook skoolgegaan het, skool te hou. Dit is toevallig dat ek nou die hoof is.”
Hy hoop om die skool op veral akademiese gebied met almal se hulp tot groter hoogtes te neem.