Brückner de Villiers Primêr se nuwe hoof, James Isaacs, wat verlede Dinsdag (1 Julie) sy amp ingeneem het. Foto: Yaël Malgas

James Isaacs het dalk aanvanklik nie geweet waar presies Brückner de Villiers Primêr geleë is nie, maar die nuut aangestelde hoof sê hy is gereed om die skool op die “map” te sit.

Isaacs, wat op Dinsdag 1 Julie amptelik die leisels van die laerskool in Idasvallei by Gail Kortje oorgeneem het, sê hy is hartlik deur die personeel ontvang en meen met só ‘n span kan die skool ver kom. “Ek het reeds my buurmanne van Idasvallei Primêr en St. Idas gewaarsku – binne twee jaar sal Brückner de Villiers die beste skool in Idasvallei wees. Hierdie skool het van die beste onderwysers in die streek en ons het soveel potensiaal om te ontgin,” vertel Isaacs.

Hoewel hy deesdae in Strand woon, kom hy oorspronklik van Firgrove en dit was hier by die plaaslike laerskool waar hy ook tot onlangs adjunkhoof was. Voorheen was hy vir twee dekades by Macassar Primêr.

Hy bieg hy is met ‘n swaar hart weg van sy alma mater veral omdat hy “sy stout kinders” die meeste sal mis. “Hulle het my die pa van die stout kinders genoem,” skerts hy. “Dit begin alles met respek. Ongelukkig word baie kinders by die huis afgebreek en die laaste ding wat jy as onderwyser dan kan doen is om met hulle te raas en te dink hulle sal na jou luister, maar hulle kry dit reeds by die huis. Ons grootste werk as onderwysers is om kinders te help opbou. Soek die goedheid in die leerders. Indien jy gaan fout soek, sal jy dit altyd kry, maar indien jy ‘n kind respek kan gee en hy jou dan in sy vertroue kan neem, kan dit die wêreld se verskil in sy lewe maak.” Hierdie siening is hoekom Isaacs ‘n oopdeur-beleid met personeel en leerders het.

Van uitdagings weet Isaacs self. Hy was besig om gereed te maak vir sy Junie- matriekeksamen toe hy die tyding kry dat sy pa oorlede is. Sy ma moes toe haar vier seuns alleen grootmaak, maar Isaacs sê dit was sy oom, wat ook ‘n onderwyser was, wat hom in die beroep gekry het. “Aanvanklik het ek ná matriek gaan werk om my ma te help, maar my oom het gesê ek moet gaan studeer. Hy het my self na die onderwyskollege geneem en ingeskryf.”

Buiten sy oom meen Isaacs dit was sy voormalige hoof, Edeon Wyngaad, wat sy grootste mentor was. Nou is hy egter self aan die stuur en hy sê hy het groot planne vir Brückner de Villiers Primêr.

Sedert verlede Dinsdag, toe die skole heropen het, het hy reeds verskeie vergaderings gehad om ondersteuning vir die skool te kry en programme vir leerders van stapel te stuur. Deel van die planne is om kultuur en musiek na die skool te bring.

As trompetspeler glo Isaacs die kunste kan vele deure vir leerders open. Hy het reeds verseker dat koderingsklasse eersdaags by die skool aangebied sal word en dat musikale leerders by die Field Band- stigting kan aansluit.

Wanneer hy nie planne beraam om sy skool die beste moontlike skool in Idasvallei te maak nie, bring Isaacs tyd saam met sy familie deur en geniet veral die geselskap van sy drie woelwater-kleinkinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article