Altesaam 14 vroue het verlede Dinsdag (10 September) hul sertifikate ontvang nadat hulle ’n 12 weke lange kindersorgprogram van Bergzicht Opleiding en Ontwikkeling suksesvol voltooi het.


Bergzicht Opleiding en Ontwikkeling, ’n organisasie sonder winsoogmerk in Stellenbosch, het onlangs die sertifisering van 14 nuwe kinderversorgers gevier.

Danksy finansiering deur ’n anonieme plaaslike skenker is ’n groep vroue bemagtig om ’n waardevolle bydrae tot die kindersorgsektor te lewer.

Beroepsmoontlikhede vir hierdie opgeleide kinderversorgers sluit in posisies soos crèche-assistent, dagmoeder, kinderoppasser en au pair.

Elke afgestudeerde het Dinsdag 10 September ’n sertifikaat ontvang wat hul kwalifikasie as kinderversorger bevestig. Die studente het ook ’n bykomende noodhulpkursus voltooi, met ’n fokus op kinderveiligheid, veral ten opsigte van noodgevalle en die voorkoming van beserings en ongelukke.

Melissa Apollis (38) van Khayamandi en die getroude ma van drie, deel haar entoesiasme: “Ek sien daarna uit om my nuutverworwe kennis in my eie gemeenskap toe te pas.”

Carlin Smith (41), ’n getroude ma van een, voeg by: “Die kursus het my ’n tweede kans gegee om my passie uit te leef. Bergzicht het my drome in doelwitte omgeskep.”

Beide Apollis en Smith is gretig om aan die werk te spring en ’n positiewe uitwerking in hul gemeenskappe te hê.

Bergzicht se 12 weke lange kindersorgprogram is daarop gemik om volwassenes toe te rus met die nodige vaardighede om kinders se groei en ontwikkeling te bevorder.

Vroeëkinderontwikkeling vervul ’n kritieke rol in kinderbeskerming, -opvoeding en -ontwikkeling.

Patricia Jacobs van Cloetesville beskryf haar ervaring as “fenomenaal – op persoonlike en op professionele vlak”.

Die program lê klem op die gebruik van maklik bekombare, herwinbare materiale vir kreatiewe aktiwiteite.

Hierdie benadering kweek nie net omgewingsbewustheid nie, maar leer studente ook hoe om koste-doeltreffende opvoedkundige hulpmiddels te skep.

Nathalie Skippers, die organisasie se maatskaplike ontwikkeling- en opleidingsbestuurder, beskryf die groep kindersorgprogram-studente as uitstekende kommunikeerders en “ ’n heerlik diverse groep met ’n passie vir kreatiwiteit”. Sy meld dat die opleidingsvennote, waar studente hul 20 dae praktiese opleiding voltooi het, baie beïndruk is met die groep.

Hanneke le Roux, ’n kindersorgfasiliteerder by Bergzicht, sê die opwinding oor toekomstige geleenthede is besonder sterk in vanjaar se groep. “Hulle bring soveel energie. As fasiliteerder is dit vir my ’n droom wat waar word. Mag ons nog lank die voorreg hê om hierdie program te kan aanbied.”

Die Bergzicht-fasiliteerder en voormalige skoolhoof Hilary Wentzel voeg by: “Wat hierdie groep so uniek maak, is dat hulle graag wil leer, hulle wil hulself verbeter.”

Studente is reeds beskikbaar vir plasingsgeleenthede.

  • Werkgewers kan Corine Mans, studentekoördineerder by Bergzicht, by 021 883 3525 kontak of e-pos stuur aan studentsupport@bergzicht.org.za om moontlike werkgeleenthede te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.