’n Liefde vir punk-rockmusiek en inspirasie deur alternatiewe musiek word vasgevang in Robert Bolton se splinternuwe enkelsnit, “Dans in Afrikaans”.
Dis ’n punk-popsnit uit Robert se eie pen; hy en Shan Read het die liedjie op die stoep van sy huis in Stellenbosch geskryf. “Dans in Afrikaans” is geïnspireer deur Bolton – wat aan die sangkompetisie Die Kontrak 2 deelgeneem het – se liefde vir punk-rock- en alternatiewe musiek en groepe soos Glaskas en Die Heuwels Fantasties.
Musiek het nog altyd ’n integrale rol in Robert Conradie, oftewel Robert Bolton, se lewe gespeel en leef hy van kleins af vir die musiek- en dramawêreld. Hy het as sesjarige begin klavier speel en sing, en het sy vroeë jare in Vredendal deurgebring voordat sy gesin na Stellenbosch verhuis het. Hy is steeds ’n Stellenbosser.
Hier het sy musikale reis voortgesit terwyl hy sy skoolopleiding voltooi het. Die sanger is bekend vir sy veelsydige musiekstyl, maar blink uit in rock, soul en blues.
“Dans in Afrikaans” is ’n energieke lied en vertel van die sanger se grootste musikale inspirasies. Die klank van die liedjie kan vergelyk word met dié van die internasionale punk-rockgroep Blink 182.
“Ek sing ook oor my ervaring van skool, waar ek nie altyd lekker ingepas het nie omdat ek meer aanklank gevind het by musiek as by sport,” sê Bolton oor die tema van die liedjie.
Die ritmiese liedjie is net betyds vir die somermaande wat voorlê en skets ook die sanger se agtergrond. “Ek dink die publiek gaan die liedjie baie geniet as gevolg van die lekker positiewe energie wat dit skep. As jy goed kan sokkie, is dit ook ’n liedjie vir jou om op te skoffel,” voeg hy by.
Bolton wil graag luisteraars aanmoedig om verskillende genres van Afrikaanse musiek te omarm.
“Ek glo dit is ook my verantwoordelikheid as musikant om te ontdek en gebruik te maak van die gapings in ons musiekbedryf waar daar nog nie baie fokus op is nie.”
Die musiekvideo vir “Dans in Afrikaans” is by die gewilde kuierplek Padstal in Pretoria verfilm, asook in ’n tuisateljee. Die prettige video bestaan uit verskeie elemente, waarvan sy optrede ook deel uitmaak.
Bolton het sy debuut met die liedjie “Toy Train” gemaak, nadat hy aan Die Kontrak 2 deelgeneem het, maar wil nou iets meer kommersieel aan die mark bied.