Vir duisende Maties simboliseer die Droomoptog die amptelike begin van hul akademiese reis by dié instansie.Foto:


Die jaarlikse amptelike verwelkomingsgeleentheid van die Universiteit Stellenbosch sien vanjaar effens anders daar uit.

Benewens die meer as 5 600 nuweling-eerstejaarstudente word nuweling-nagraadse en -postdoktorale studente, asook nuwe personeellede wat sedert verlede Februarie by die US aangesluit het, ook by die geleentheid vandag (Donderdag 2 Februarie) in die Danie Craven-stadion verwelkom.

Prof. Wim de Villiers, US-rektor en -visekanselier, en studenteraadvoorsitter Masilo Silokazi sal by die geleentheid die nuwelinge by die US verwelkom. Die universiteit se bestuur en studenteleiers word ook van 16:00 voorgestel, en familie en vriende van nuwelinge is welkom om die geleentheid by te woon.

Studente sal na afloop van die amptelike verwelkomingsgeleentheid Donderdagaand aan die vyfde ikoniese Droomoptog in Victoriastraat kan deelneem.

“Vir duisende Maties simboliseer die Droomoptog die amptelike begin van hul akademiese reis en as’t ware ’n droom wat vir hulle waar geword het,” verduidelik Pieter Kloppers, direkteur: Sentrum vir Studentegemeenskappe. “Die oomblik wanneer jy onderdeur die banier stap, is jy amptelik ’n Matie.”

Die Droomoptog word gevolg deur Droomville, ’n studentefees in en rondom die Neelsie-studentesentrum. Feestelikhede sluit in sirkusartieste en ’n musiekfees.

Die verwelkomingsgeleentheid is ook die begin van die US se verwelkomingsprogram wat tot Saterdag 11 Februarie duur met klasse wat amptelik op Maandag 13 Februarie begin.

“Die verwelkomingsprogram word saamgestel om ’n fyn balans te skep tussen betekenisvolle en onvergeetlike geleenthede, maar ook noodsaaklike inligting- en oriëntasiesessies. Dít help nuwe Maties om hul opvoedkundige reis met vertroue aan te pak,” sê Kloppers.

Verdere opwindende geleenthede is die jaarlikse Sosiale Impak-oggend Donderdag 9 Februarie – met nuwelinge wat die geleentheid kry om deel te neem aan praktiese gemeenskapsaktiwiteite; die Connect Vensters-straatteater Saterdag 11 Februarie van 12:00 tot 19:00 by die Welgevallen-hokkievelde; gevolg deur die Maties Connect-fees by Welgevallen.

Alle US-studente het toegang tot ’n aanlyn aanboordprogram om hulle te help om hulle op die praktiese sy van hul studie voor te berei.

Besoek ook www.sun.ac.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.