Nuwe netbalklub beloof om meisies se lewe te verbeter

’n Nuwe netbalklub in Cloetesville wil nie net die lewe van sy spelers verbeter nie, maar ook die lewe van kinders in die breër gemeenskap.


’n Nuwe netbalklub in Cloetesville wil nie net die lewe van sy spelers verbeter nie, maar ook die lewe van kinders in die breër gemeenskap.

Die Black Pumas-netbalklub wat nog in sy kinderskoene staan, is op 30 Mei deur Vernon en Carlene Petersen gestig om jongmeisies op ’n positiewe manier besig te hou.

Die klub het tans drie spanne – senior A, senior B en junior o.15 – wat in die Stellenbosch-distrik van die Wynland-netbal-unie speel.

“Ons het al heelwat jongmense getrek om sport te kom beoefen, om hulle sodoende van verkeerde dinge weg te hou. Ons het op Jeugdag in die gemeenskap sop uitgedeel,” sê Vernon, die voorsitter.

Hy sê hulle beoog om weer ’n uitreiking te hou waar hulle nog jongmense wil bereik.

“Ons wil hê hulle moet besef dat om sport te beoefen ’n goeie keuse as jong vrou is en dat dit jou na hoër hoogtes in die lewe kan neem. Ons wil hê hulle moet uitstaan en nie inpas nie. Ons hoop om net ’n verskil te maak deur netbal in Cloetesville te bevorder,” voeg hy by.

Carlene, hoofafrigter van die Black Pumas, sê die klub se doelwit is om spelers die geleentheid te gee om van onder af te begin en hulle te vestig in meer uitdagende ligas en om in provinsiale unies te speel.

“Ons leef ons elke Saterdag uit saam met die kinders, om toe te laat dat sport seëvier. Ons sal altyd ons kinders aanmoedig deur hulle te motiveer om hul beste te gee. Selfs wanneer hulle verloor, moet ons as wenners van die veld stap, want daar kan net een wenner wees en dit word hulle geleer. Ons spelers word ook aangemoedig om met hul opponente in ’n goeie sportvrou-gees te speel.”

Carlene sê met ’n positiewe uitkyk gaan dinge vir jou gebeur.

“Jou instelling moet altyd positief wees om ’n goeie sportvrou te wees.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.