Die Hans Merensky-navorsingsleerstoel in Gevorderde modellering van loekomhoutproduksie (of EucXylo) aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Woensdag 11 September amptelik sy IMPACT- opeluglaboratorium (OAL) op die Lourensford-plaas naby Somerset-Wes geopen.
Die Intensive Monitoring of Planted And Competing Trees-OAL (IMPACT OAL) is aan die hart van die EucXylo-program wat in die US se departement bos- en houtkunde gesetel is en staan onder leiding van prof. Dave Drew.
Hierdie navorsingsfasiliteit van tien hektaar – een van die eerste intensiewe, langtermyn-moniteringsprogramme oor bloekombome in Suid-Afrika – pronk met die heel nuutste moniteringstegnologie wat van moderne sensorstelsels gebruik maak en aan die Internet van Dinge (Internet of Things, IoT) gekoppel is, asook laserskandeerders, hommeltuie, afstandwaarnemingstelsels insluitende gevorderde LiDAR (Light Detection and Ranging)-tegnologie en gedetailleerde karakterisering van terrein- en omgewingsveranderlikes. Die hoofnavorsingsbasis sluit ’n sonkragstelsel in wat krag vir instrumente en ’n weerstasie verskaf.
Die IoT-sensors sal gebruik word om boomgroei, koolstofsekwestrasie en watergebruik asook grondwaterinhoud, hoe die bome op droogte reageer, hoe hulle deur peste en siektes asook weersveranderinge geraak word, deurlopend te monitor. Die LiDAR-tegnologie sal boomhoogte, vertakkingseienskappe en ander strukturele veranderlikes meet. Weeklikse metings sal die begrip van die “dak” van boomtoppe en houtvormingsdinamika insluit. Laserskandeerders sal gedetailleerde metings van die terrein moontlik maak.
Drew het by die bekendstelling gesê die doel van die projek is “om die groei en fisiologiese reaksies van die bome oor die verloop tyd op verskillende vlakke van mededinging te monitor om in diepte te verstaan hoe hulle groei en hout vorm.
“Ons visie is om die baanbreker-moniteringstegnologie te benut om nuwe datastelle op hierdie skaal te skep, wat tot internasionale navorsingsdoelwitte en omgewingsbestuur sal bydra, en om ’n platform vir samewerking en datadeling te skep.
“Ons wil hê hierdie plek moet ’n navorsingsinfrastruktuur wees. Ons wil gekureerde, ooptoegangdata skep. Dit is nie net ’n proefneming om eie onthalwe nie; dit is ’n platform waarop verskeie datastrome geskep word, wat projekte ondersteun en dit is oop.”
Drew het bygevoeg dat hulle ook wil hê die IMPACT OAL moet ’n onderrigplantasie wees wat aan voorgraadse studente geleenthede bied om meer oor bosbestuur te leer. “Ons het ’n geleentheid hier om studente na plantasies en woude te bring wat iets demonstreer wat hulle nie andersins in die Wes-Kaap kan sien nie.”
Op ’n vraag oor waarom hulle op bloekombome fokus, het Drew gesê hulle word goed bestuur en is ekonomies ’n buitengewoon belangrike hulpbron wat ’n reusebedryf wêreldwyd ondersteun.
“Bloekombome word vir die vervaardiging van ’n groot verskeidenheid produkte, insluitende brandstof, hout, panele en vloerbedekkings gebruik, asook vir hoëgehalte- gesuiwerde houtstof wat in toepassings soos materiaal, voedsel en farmaseutiese produkte gebruik word. Die volhoubare bestuur van bloekombome is myns insiens absoluut noodsaaklik,” het hy verduidelik.
Dr. Khotso Mokhele van die Hans Merensky-erfenisstigting en prof. Sibusiso Moyo, viserektor vir navorsing, innovasie en nagraadse studies aan die US, het ook die bekendstelling bygewoon. Die EucXylo-program word deur die erfenisstigting en die departement van wetenskap en innovasie se sektorinnovasiefonds, wat deur Bosbou Suid-Afrika vir die bosboubedryf geadministreer word, gefinansier.
Mokhele het Drew en sy span gelukgewens met hierdie mylpaal. “Dit gaan oor nasionale infrastruktuur. Daar is mense wat dalk nie vandag hierheen genooi is nie, maar wat hierdie laboratorium oor vyf, 10 of 15 jaar – hetsy hulle nou in die bedryf is, akademici is of plaaslik of internasionaal is – sal gebruik. Dit is presies wat dr. Hans Merensky in gedagte gehad het,” het hy gesê.
“As een van die mense wat sy nalatenskap moet bewaar, kan ek nie trotser wees om vandag hier te staan en deel van die bekendstelling van hierdie wonderlike nasionale infrastruktuur te wees nie.”
Moyo het die Hans Merensky-erfenisstigting vir sy ondersteuning van studente en die IMPACT OAL bedank. Sy het gesê die laboratorium toon dit is moontlik is om navorsing, onderrig en leer bymekaar te bring.
“Dit bied die intydse ervaring, wat vir ons belangrik is omdat ons wil hê ons graduandi moet praktiese vaardighede hê. Hierdie projek verskaf dit aan die leerkant. Dit bied egter ook groot potensiaal aan die navorsingskant vir ons eie volhoubaarheid, om ons omgewing te verstaan en ons navorsingsagenda te bevorder.”
Die IMPACT OAL sal vir wetenskaplikes en studente van alle vakgebiede oop wees wat daarin belangstel om navorsing te doen oor plantasiebos-ekologie en hoe bome (en veral bloekombome) groei en hout vorm. Die fasiliteit sal ook vir die publiek en skole oopgestel word om die gemeenskap in staat te stel om ’n voorbeeld van uitstekende bosbouwetenskap te ervaar en om die produksieproses van volhoubare hout- en veselprodukte beter te verstaan.