Talle gemeenskapsleiers en inwoners van Cloetesville wat omgee vir hul buurt het verlede Saterdag byeengekom om ’n plan te beraam vir die toekoms van Cloetesville.

Credit: SYSTEM

Meer as 60 leiers van Cloetesville en mense wat omgee vir die welstand van hul gemeenskap het Saterdag 15 Oktober byeengekom en ’n besluit geneem om ’n platform te skep waarmee die grootste uitdagings in die gemeenskap aangepak kan word.

Die samekoms is die inisiatief van Malena Fourie, wat goeie ondersteuning gekry het van al die rolspelers in die gemeenskap, in samewerking met die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG). Die geleentheid is by die VG-kerk in Cloetesville gehou en gefasiliteer deur dr. Braam Hanekom van die sentrum.

Volgens Carol Lakay van die e’Bosch-erfenisprojek is besluit om ’n platform te skep wat in die toekoms meer gereeld sal vergader en waar die talle sake wat die hele gemeenskap raak, bespreek sal word in die hoop dat daar konkrete uitkomste sal wees.

“Dit sluit in die vestiging van ’n veeldoelige sentrum waar albei vaardigheidsopleiding en die heling van trauma aangepak sal word. Die uitklaar en vestiging van nuwe waardestelsels – dit sluit respek vir mekaar en die gemeenskap in, asook die rol van ouers in die verband. Die behoeftes van jongmense, insluitend werkloosheid en dwelmmisbruik, samewerking tussen NRO’s, bendes en die afwesigheid van rolmodelle, veilige ruimtes vir vermaak en leiersopleiding sal ook aan die beurt kom. Die deelnemers het besluit om ’n memorandum van verstandhouding op te stel wat die platform se mandaat sal bepaal.”

’n Bestuurskorps van ses lede is ook gekies en sluit in Edward Crowley, Kevin Jooste, Valerie Fernandez, Magdalene Blankenberg, Marthinus Groenewald en Kauthar Adams.

Vir meer inligting en/of om ’n bydrae te lewer, bel Malena Fourie by 083 858 9779.

You need to be Logged In to leave a comment.