Andre van Staden, tans skoolhoof van Hoërskool Pearson in Port Elizabeth, is aangestel as die nuwe rektor van Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch. Hy sal op 1 Mei 2017 diens aanvaar.

Hy neem oor by Jannie van der Westhuizen, wat ná 10 jaar as rektor uittree en daarmee ’n onderwysloopbaan van 37 jaar, 25 daarvan as skoolhoof, afsluit.

Van Staden het 32 jaar onderwyservaring. Hy het ’n BA-graad en nagraadse hoëronderwysdiploma met voortgesette professionele ontwikkeling. Hy het in 1984 as onderwyser by Grey High School in Port Elizabeth begin en later daar departementshoof geword.

Sedert 2005 was hy skoolhoof by Hoërskool Pearson. Hy was ook van 1988 tot 1993 ’n deeltydse dosent aan die Universiteit van Port Elizabeth.

Van Staden is getroud met Adia, en hulle het twee seuns, Quintin (23) en Kurt (21).

Sy opvoedingsfilosofie is gegrond op die omvattende en gebalanseerde ontwikkeling van leerders om verantwoordelike, gelukkige en goed aangepaste volwassenes te word. Hy streef ook daarna dat elke leerder sy volle potensiaal op akademiese, sport- en kultuurgebied sal bereik.

Luidens ’n verklaring deur PRG se beheerliggaam is sy aanstelling die resultaat van ’n baie deeglike en deursigtige proses wat oor nege maande gestrek het om die geskikte kandidaat te vind.

“Ons sien uit na sy koms ten einde Paul Roos in ‘n uitdagende dog opwindende onderwysomgewing te lei.

“Die beheerliggaam spreek ook graag sy groot dank en waardering uit teenoor mnr Van der Westhuizen vir sy onbaatsugtige en voortreflike diens aan Paul Roos. Ons wens hom net die beste toe met sy uittrede.”

Die nuwe en uittredende rektor sal binnekort begin saamwerk om ’n vlot oorgang te verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.