Indien jy die ouer van ’n kind met spesiale leerbehoeftes is, is jou opsies in Stellenbosch beperk.

Buiten die Dorotheaskool in Cloetesville is ouers van dié leerders se enigste ander opsie om hul kinders teen groot onkoste en ongerief na spesiale skole in ander dorpe te stuur.

Juliette Stander, wie se dogter, Lisa, so ’n leerder is, se frustrasie met die gebrek aan skole vir leerders met spesiale leerbehoeftes in Stellenbosch is juis die rede waarom sy besluit het om Lisa Spesiale Skool op die been te bring.

Die skool, wat spesifiek gemik is op die onderrig van kinders met ’n verstandelike agterstand van twee jaar of meer, sal volgende jaar in Januarie open.

“Stellenbosch maak nie voorsiening vir alle kinders met spesiale leerbehoeftes nie,” verduidelik sy. “Hoofstroom-onderwys is ontoepaslik vir baie van hierdie kinders, aangesien hulle optimaal vorder met ’n aangepaste kurrikulum.”

Sy sê elke kind is uniek en leer op verskillende maniere en daarom is dit nodig dat leerders met spesiale leerbehoeftes gereeld geëvalueer moet word en geïndividualiseerde leerplanne vir hulle uitgewerk word.

Stander meen dit is vreemd dat in ’n universiteitsdorp soos Stellenbosch daar so ’n gebrek aan opsies vir leerders met spesiale leerbehoeftes is.

“Dit is die rede waarom baie Stellenbosse ouers hul kinders óf tuis onderrig óf hul kinders na skole in ander dorpe stuur. Dit bring onder meer vervoerprobleme mee. Sommige ouers word selfs genoodsaak om hul kinders in spesiale skoolkoshuise in ander dorpe te plaas.”

Sy sê die gevolge van ontoepaslike en ontoereikende onderwys het ’n gewel­dige uitwerking op die kinders en kan tot akademiese agteruitgang, ’n swak selfbeeld en vereensaming lei. Dit plaas ouers ook onder groot finansiële druk.

By Lisa Spesiale Skool sal leerders volgens ’n aangepaste CAPS-kurrikulum leer wat op taal, wiskunde en lewensvaardighede fokus. Aktiwiteite soos kuns, musiek en swem sal ook by die skool aangebied word.

Die skool kan tans altesaam agt leerders huisves.

Indien jy meer oor die skool wil weet, kontak Juliette Stander by leersentrum@gmail.com, juliettestander@yahoo.co.uk of stuur ’n WhatsApp na 082 884 8490.

You need to be Logged In to leave a comment.