CRC Care, die maatskaplike vleuel van die Christian Revival Church (CRC) in die Paarl, het Dinsdag (8 Julie) in vennootskap met die Drakenstein-munisipaliteit (DM) die Paarl se jongste skuiling vir haweloses amptelikbekendgestel. Ná ‘n week van reën het die sonskyn op dié dag deur die wolke gebreek – so asof die weer self wou bydra tot die verwelkoming van dié broodnodige gemeenskapsinisiatief.
Die DM het die tender vir die bestuur van dié skuiling aan dié welwillendheidsorganisasie toegestaan. Die nuwe skuiling bestaan uit 10 vragskiphouers toegerus met stapelbeddens en aluminiumraamvensters.

Die nagskuiling, House Bethany, is in Van der Merwe-straat, Charleston Hill, agter The Haven Night Shelter en is die derde nagskuiling in die DM.
Volgens Madeleine Grobler, direkteur van CRC Care wie saam met Mildred Klink ook die bestuurder van die skuiling is, was die afgelope Dinsdag die eerste aand waarop haweloses die skuiling gebruik het. Mense wat nie ‘n plek gekry het nie, word aangemoedig om aansoek te doen – veral hawelose vroue, wat die belangrikste is. Hul name sal op ‘n waglys geplaas word.
Grobler het verder ‘n beroep op die publiek gedoen om nie geld of kos direk aan haweloses te gee nie, maar om hulle aan te moedig om die skuiling te besoek. Skenkings aan die skuiling word verwelkom en sal deur die skuiling aan behoeftiges in die Paarl versprei word.
Daar is een ander nagskuilings is in die Paarl, genaamd The Haven-nagskuiling wat in private besit is, terwyl nog ‘n nagskuiling in Wellington deur Networking for Christ (‘n plaaslike organisasie sonder winsoogmerk) namens die munisipaliteit bestuur word.
House Bethany is tans in sy eerste fase, wat oornagskuiling vir 26 haweloses (13 mans en 13 vroue) verskaf – met toiletgeriewe, ‘n kombuis wat drie etes per dag sal voorsien, asook vaardigheidsopleiding, wat in twee verpligte sessies per dag aangebied sal word.
Die tweede fase is om bykomende tydelike skuiling vir haweloses in die DM te skep, met die presiese aantal beddens wat nog vasgestel moet word.
Volgens Grobler is agt mense by die skuiling in diens geneem, insluitend vier werknemers wat snags op ‘n aflosgrondslag patrolliewerk by die skuiling sal doen.
Pastoor Mark Taljaard van die CRC-kerk in die Paarl sê CRC Care, wat tans een jaar oud is, was op soek na ‘n geleentheid waar die kerk ‘n verskil kan maak en was opgewonde toe hy hoor dat die tender aan hulle toegestaan is.

Volgens hom is dit belangrik om in die gemeenskap terug te ploeg – veral onder die armes – omdat dit iets is wat God self gedoen het.
Grobler het verduidelik dat die skuiling vir drie maande huisvesting aan haweloses sal bied, met die hoop dat hulle ná hierdie tydperk meer onafhanklik sal funksioneer.
Dit sal moontlik gemaak word deur die bystand en vaardigheidsontwikkelings-opleiding wat gedurende hul verblyf aangebied word. Hierdie reëling is egter nie overanderbaar nie en kan van geval tot geval aangepas word.
• Indien iemand skenkings wil gee, kan Grobler by 084 582 3348 gekontak word.



You must be logged in to post a comment.