Nuwe sonars geskenk

,

Danksy ‘n skenking van die Stellenbosch-rotariërklub is die plaaslike hospitaal twee nuwe sonaarmasjiene ryker.


Die flink dink van twee Stellenbosse dokters en die vra vir hulp is met ‘n besonderse skenking beantwoord en nou is die Stellenbosch Provinsiale Hospitaal twee splinternuwe sonarmasjiene ryker.

Dr. Tabitha Mathose en Dr. Lawson Eksteen is die hospitaal se twee gesinsdokters. Met haar aankoms by die hospitaal het Mathose besef die hospitaal se enigste sonarmasjien was verouderd en sy het besluit om ‘n plan te beraam om beter toerusting aan te skaf.

“My belangstelling is moedergesondheid en primêre sorg. Ek het gespesialiseer by die Helderberg-staatshospitaal. Hier het die plaaslike Rotariërs sonarmasjiene aan die hospitaal geskenk wat ‘n groot verskil in dienslewering gemaak het,” verduidelik sy.

Saam met Eksteen, wat familie het wat ook Rotariërs is, het hulle besluit om na die Stellenbosse Rotariërs uit te reik. Die plaaslike Rotariërs skenk gereeld toerusting aan die hospitaal, maar hier- die versoek was ‘n veel groter een.

Nietemin het die Rotariërklub, onder leiding van sy president, Stuart Hunter, ingespring en ‘n geldinsameling gehou vir ‘n nuwe masjien. Hunter het ook uitgereik na hul bure in die Helderberg, die Rotariërklub van Helderberg Sunrise, die Rotariërstigting van Rotary Internasionaal, die Rotariërklubs Hameln, en Nienburg-Neustadt, het almal gehelp.

‘n Paar maande later is twee sonarmasjiene en drie draagbare sonarmasjiene van GE Medical aan die hospitaal oorhandig.

“Net 45 minute nadat ons die masjiene oorgegee het, was dit reeds in gebruik,” het Hunter Dinsdag (15 April) by die amptelike oorhandiging vertel. Hy het bygevoeg die klub is verheug om die hospitaal se vermoëns van dienslewering te verbeter en by te dra tot die welstand van die gemeenskap.

Hierdie projek is ‘n bewys van die krag van vennootskap en die impak wat gemaak kan word wanneer organisasies bymekaarkom om ‘n gemeenskaplike doelwit te ondersteun, meen hy.

Die masjiene is ‘n belegging van meer as R1 miljoen en kan gebruik word om almal te help, van verwagtende mammas tot slagoffers wat gesteek of geskiet is om enige inwendige bloeding op te spoor.

Dit is egter nie net hospitaal-pasiënte wat baat vind by die skenking nie, maar ook die res van die byna 200 000 plaaslikes wat van die streek se agt klinieke gebruik maak.

Die hospitaal se ou sonarmasjien is nou na die Franschhoek-kliniek en met die masjien hier beteken dit pasiënte hoef nie meer van hul tuisdorp na Stellenbosch te reis vir enige skandeerings nie.

Eksteen sê die draagbare sonarmasjiene beteken ook pasiënte van die omliggende dorpe kry verbeterde, onmiddellike diens.

“Die meeste mense van ons diensgebied woon ver van die hospitaal soos op plase en aan die buite wyke soos Franschhoek en Klapmuts. Die behoeftes van die streek is groot en dit is hartseer omdat daar nie altyd genoegsame hulpbronne is om hulle te help nie, wat natuurlik ‘n negatiewe impak op hul welstand het,” sê Eksteen.

Met die nuwe masjiene kan hy en sy kollegas alles van bloedklonte tot ‘n moontlike geval van tuberkulose opspoor tydens ‘n ondersoek.

” ‘n Sonarskandering kan basies gebruik word om byna enigiets te diagnoseer. Selfs TB waar ons kan sien of ‘n pasient vloeistof in sy longe het, wat beteken ons kan so gou moontlik met behandeling begin. Indien ons dalk sukkel om jou are op te spoor kan ons die masjien gebruik, of ons kan sien of jy dalk ‘n bloedklont in jou been het. In plaas daarvan om dae lank te wag vir ‘n skandering of X-strale, ook omdat die diens nie net daagliks beskikbaar is nie, kan ons soveel gouer optree,” sê Mathose.

Volgens die Wes-Kaapse minister van Gesondheid en Welstand, Mireille Wenger, spreek die Rotariërs se donasie van wat moontlik is wanneer die openbare sektor hande vat met die gemeenskap. “Die Rotariërs het ‘n trotse geskiedenis wat meer as ‘n eeu terug dateer, en ‘n nalatenskap van betekenisvolle humanitêre werk. Ek dink baie van ons het ‘n diep persoonlike verbintenis met die waardes van die Rotariërs, wat diens, gemeenskap, diversiteit, waardigheid, en leierskap insluit. So vandag sien ons hoe daardie waardes uitgeleef word deur die vrygewigheid van die skenkers en die gesondheidshelde wat vir hul pasiënte gepleit het,” sê Wenger.

Sy het Mathose en Eksteen vir hul vernuf geprys, terwyl die twee dokters op hul beurt die Rotariërs bedank het.

Lede van Rotary, personeel van die Stellenbosch-hsopitaal en Wes-Kaapse minister van Gesondheid en Welstand, Mireille Wenger, asook Stellenbosch-burgemeester Jeremy Fasser tydens die amptelik oorhandiging van sonaarmasjiene wat deur die plaaslike rotariers aan die hospitaal geskenk is. Foto: Yaël Malgas

You need to be Logged In to leave a comment.