Nuwe sorgsentrum amptelik oop in Stellenbosch

Die voormalige Botsmanskop-koshuis van die Universiteit Stellenbosch is nou ’n nuwe sentrum wat hulp aan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld bied.


Die voormalige Botsmanskop-koshuis van die Universiteit Stellenbosch is nou ’n nuwe sentrum wat hulp aan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld bied.

Hoewel die nuwe Thuthuzela-sorgsentrum Dinsdag (16 April) amptelik geopen is, het die sentrum reeds 93 slagoffers sedert Februarie gehelp.

Hooggeplaastes van onder meer die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Mediclinic SA, plaaslike nie-regerings­organisasies en die polisie het almal die opening saam gevier. Samewerking was die sleutelwoord op die dag met vele sprekers wat die gesamentlike poging van al die rolspelers uitgelig het om die sorgsentrum op die been te bring.

“Indien ons na die statistiek kyk, kan ons sien hoe gevalle van geslagsgebaseerde geweld toeneem,” vertel Wendy Pekeur van Ubuntu Rural Women.

Sy meen die sentrum is gewis ’n aanwins vir die gemeenskap. Die sentrum het 24-uur-noodbehuising, beradingskamers vir volwassenes sowel as kinders, ’n speelkamer, ’n polisie-kantoor asook ’n dokter en beraders op die perseel. Die sentrum is die vlagskip van Thuthuzela-sorgsentrums en die eerste wat nie by ’n hospitaal geleë is nie, maar eerder mediese dienste op die perseel het.

Bettie Nieuwoudt van StellSorg vertel oor die noodbehuising vir slagoffers. Foto: Yaël Malgas

Dr. Notobeko Dyakopu verduidelik die mediese ondersoekproses by die sorgsentrum.Foto: Yaël Malgas

“Ons moet die pasiënte veilig laat voel. Die ondersoek word gedoen teen ’n tempo waarmee hulle gemaklik is, maar ons moet die bewyse [van die oortreding] versamel. Ek sien om na die mediese aspekte en ons moet elke liewe deel van die ondersoek verduidelik om pasiente gemaklik te maak,” het dr. Notobeko Dyakopu, wat aan die stuur van die kliniese span is, verduidelik.

Die idee van Stellenbosch se eie Thuthuzela-sorgsentrum het gevolg ná ’n gesprek tussen die NVG en die Ring for Peace Cape Trust. Die stigting het insette van onder meer die departemente van maatskaplike dienste en gesondheid, die polisie en die SPAR-groep geverg.

Volgens die LUR van maatskaplike dienste, Sharna Fernandez, is die sorgsentrum ’n baken van hoop vir diegene wat ongelukkig daarvan gebruik moet maak. “Hierdie fasiliteit sal ook ’n toevlugsoord en ’n reddingsboei wees vir baie slagoffers en oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld. Dit is dus belangrik dat ons doeltreffende werksverhoudings handhaaf om te verseker dat niemand wat ondersteuning nodig het, agtergelaat word nie. Diegene wat hier werk, het ’n groot verantwoordelikheid om te verseker dat elke gewonde individu wat deur hierdie deure stap, die plek verlaat met ’n gevoel van ondersteuning, hoop, en soos die woord ‘Thuthuzela’ beteken – ‘getroos’,” meen Fernandez.

Die plaaslike sentrum, die 64ste van sy soort, is geleë op die hoek van Ou Helshoogteweg en Proteastraat in Idasvallei.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.