Die Pniël Villagers-rugbyklub het die afgelope Vrydag (4 April) op die vooraand van die 2025-ligaseisoen ‘n borgskap deur Cofco Intl ontvang en Sondag 30 Maart het ds. Leon Klate van die Congregational-kerk vir die spelers en amptenare vir die seisoen gebid.
“Die geldelike bestuur en gesondheid van gemeenskaps- klubs word bepaal deur die geldelike bystand van sakeondernemings wat bereid is om in die gemeenskappe waar hulle sake doen, te belê. Om borgskappe te bekom, bly ‘n groot uitdaging wat in baie gevalle die sukses van ‘n klub bepaal,” sê Winston Stubbs, klubvoorsitter.
Die oorhandiging is op die klub se seisoensbekendstelling in die klubhuis gedoen.
“Ons is baie dankbaar teen-oor Cofco Intl vir die truie en speeltruie vir ons kinders en glo die borgskap sal die spelers motiveer om nuwe hoogtes te bereik,” sê Stubbs.
Hy sê ook Pniël Villagers is een van die min klubs in die Westelike Provinsie-rugbyunie se ligas wat homself ‘n plaaslike dorpsklub en -span kan noem, want slegs plaaslike spelers van die Dwarsriviervallei speel vir dié span.
Pniël Villagers het Saterdag (5 April) sy seisoen teen Langa ingelui en met 15-10 gewen. Saterdag (12 April) speel hulle tuis teen Scottsdene-Sentraal.

You must be logged in to post a comment.