Die nuwe sportsentrum van Laerskool Stellenbosch is verlede Vrydag (12 April) op luisterryke wyse ingewy.
Die leerders het van vroegoggend af aan verskeie aktiwiteite deelgeneem.
Die personeel van die skool is op ’n heerlike middagete in die nuwe klubhuis, wat deel van die sportsentrum is, getrakteer.
Daarna het die sport voortgegaan – hokkie-, netbal- en tenniswedstryde en selfs ’n sokkerwedstryd waaraan die manspersoneel deelgeneem het, is gespeel. Verskeie spelers van die Matie-rugbyspan het vaardigheidsoefeninge met die o.13A-rugbyspan gedoen.
Die dag is afgesluit met ’n spoggerige dinee in die klubhuis wat deur uitgesoekte gaste bygewoon is. Hierdie moderne multifunksionele sportsentrum is ’n groot bate en toevoeging tot die reeds uitstekende fasiliteite waaroor Laerskool Stellenbosch beskik.
Die inwyding was op die skoolhoof, Hawkie de Villiers, se verjaardag en die beheerliggaam het hom verras deur die sentrum na hom te noem. Die sentrum sal dus voortaan bekend staan as die “Hawkie de Villiers-sentrum”.