Koester jy nie net hoop nie, maar ook ’n groot droom vir jou dorp? Met kykNET se splinternuwe program Lottolandhelp ’n dorp kan dit eersdaags veel meer as net ’n droom vir jou gemeenskap word.
In dié nuwe reeks gaan die Lottoland-span dorpe dwarsoor die land besoek en mense ontmoet wat ’n plan én ’n droom het om hul gemeenskap te verbeter.
Wie weet, dalk is jou gemeenskap een van dié wat ’n kans op so ’n droomprojek gaan kry danksy Lottoland, wat sy vlerke nog weier sprei om meer opbouende bydraes tot ons mooi Suid-Afrika te ondersteun.
Lottoland het reeds sy staal getoon met die kykNET-goedvoelprogram Dankie, Lottoland, waardeur miljoene rande aan instansies of mense in nood geskenk is. Boonop is Lottoland vanjaar die hoofborg van kykNET se gewilde Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie waar die wendorp R1 miljoen kontant van dié organisasie sal ontvang.
Die soort projekte wat aan Lottoland help ’n dorp voorgelê kan word:
• Gemeenskapsentrum
• Biblioteek
• Sportgeriewe
• Opleidingsentrum
• Hulp aan ’n bestaande sentrum of organisasie wat die dorp se inwoners dien, soos ’n plaaslike skool, dierewelsyn-organisasie of ouetehuis
• Gemeenskapstuin
• Herwinningsprojekte
• Opknapping van historiese gebou of toeristebesienswaardigheid
• Hernubare-energie-projekte, soos byvoorbeeld sonkrag
Reëls
• Slegs Suid-Afrikaanse dorpe kan inskryf.
• Elke dorp moet benoem word deur ’n komitee van inwoners wat die dorp en die droomprojek verteenwoordig.
• Die droomprojek(te) moet volhoubaar wees en die dorp moet in geheel daarby baat vind.
• Droomprojek(te) moet binne vier weke ná goedkeuring uitgevoer en voltooi word.
• Die voorgestelde projek mag nie die maksimum begroting van R500 000 oorskry nie.
• Komiteelede moet self vooraf die nodige toestemming bekom indien die projek bedryf gaan word op munisipale grond of op eiendom wat deur ’n derde party besit word.
Die vervaardigers en Lottoland sal 13 dorpe uit die kwalifiserende inskrywings kies. Oorweging sal geskenk word aan die projekvoorstel se volhoubaarheid, gemeenskapsbetrokkenheid en uitvoerbaarheid.
Besoek www.kyknet.tv vir meer inligting, bepalings en voorwaardes of stuur e-pos na dankielottoland@gmail.com. Inskrywings sluit om middernag op 30 Junie.