Magdalene Blankenberg is geen vreemdeling vir die gemeenskap nie en is vir meer as 15 jaar ’n vrywilliger in die gemeenskap en ook die koördineerder van die Cloetesville-traumakamer. Foto: Angelo Julies


Die nuwe voorsitter van die Cloetesville gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê sy wil die gemeenskap en die polisie verenig.

Magdalene Blankenberg van Cloetesville is verlede week tydens die GPF-vergadering verkies.

Blankenberg is geen vreemdeling vir die gemeenskap nie en is vir meer as 15 jaar ’n vrywilliger in die gemeenskap en ook die koördineerder van die Cloetesville-traumakamer.

“Ons moet voorkomend optree wanneer dit kom by misdaadbekamping en dit kan ons nie doen sonder dat die polisie en die gemeenskap hande vat nie,” sê Blankenberg.

Sy sê hoewel sigbare polisiëring help, is dit nie die enigste manier om die euwels in die gemeenskap uit te roei nie. “Ons wil hê alle gemeenskapsleiers, politieke leiers, geestelike leiers en die gemeenskap moet saam werk,” voeg sy by.

“Ons hooffokus gaan veral wees op geslagsgeweld, drank en dwelmverslaafdes en ons bejaardes. Ons moet ’n stem wees vir die kwesbares in ons gemeenskap.”

Sy sê hulle gaan nie ’n GPF wees wat net vergaderings hou en in geboue sit nie.

“Ons gaan op straat wees en in die gemeenskap beweeg.

“Ons moet nie net die polisie verantwoordbaar hou vir ons veiligheid nie, ons as gemeenskap moet ook deels verantwoordelikheid neem.”

You need to be Logged In to leave a comment.