Begin die jaar op ’n feestelike noot met die jaarlikse oes-optog, wat Saterdag 28 Januarie die strate van die Eikestad in ’n kleurvolle fees sal verander.

Om die optog ekstra spesiaal te maak, vind die geleentheid in dieselfde week plaas wat Suid-Afrika die 364ste jaar sedert wyn die eerste keer hier gemaak is, herdenk. SA is die enigste land ter wêreld met ’n amptelik aangetekende datum vir dié geleentheid – 2 Februarie 1659.

Oesfeeste is egter alomteenwoordig in wynboerderygemeenskappe oor die wêreld heen, en dien nie net as feesviering nie, maar ook om die naderende seisoen, wanneer druiwe vir die nuwe wyn gepluk word, te seën.

“Oestyd is die oomblik wanneer Moeder Natuur haar beloning vir ’n jaar se harde werk en sorg in die wingerde verklap,” het Elmarie Rabe, bestuurder van Stellenbosch Wynroetes, verklaar.

Die Stellenbosch-wynoes-optog word in samewerking met die Stellenbosch-munisipaliteit en Stellenbosch Wynroetes aangebied.

Die dorp se strate is elke jaar vol toeskouers wat na die sierwaens en hul geklede gevolge kom kyk. Onder hulle is wynmakers en werkers asook wynliefhebbers.

Die oes-optog begin die oggend om 09:30 by die Speelgoedmuseum in Markstraat en kronkel deur die dorp se bekende strate – omsoom deur eikebome – om by die stadsaal af te sluit, waar ’n kort seremonie gehou word. Hier sal die burgemeester, adv. Gesie van Deventer, wat ook die fees se beskermvrou is, die oes amptelik seën. Die optog vertrek dan daarna en eindig weer in Markstraat.

Die gewilde trofeë vir beste gees en beste sierwa sal ook toegeken word en die organiseerders nooi oud en jonk om hulle te kom aanmoedig.

. Besoek www.wineroute.co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.