Omgee-gees heers op Mandeladag

Die potte het behoorlik geprut en talle het uitgereik na die mees kwesbares in die gemeenskap hierdie afgelope Mandeladag.


Die potte het behoorlik geprut en talle het uitgereik na die mees kwesbares in die gemeenskap hierdie afgelope Mandeladag.

Donderdag (18 Julie) is die jaarlikse Mandeladag gevier, met talle plaaslikes wat 67 minute, en meer tyd, in diens van ander deurgebring het.

By die Wemmershoek-gemeenskapsaal het die vrywilligers van die Wemmershoek-gemeenskapsvoedingskema en die Franschhoek-tak van Standard Bank kragte saamgesnoer en kos vir honger kindermagies in die buurt gemaak.

Danksy skenkings en hul tyd agter die potte kon meer as 200 kinders op dié reënerige Donderdag warm sop geniet.

In Stellenbosch se dorpsgebied het die Universiteit Stellenbosch se regskliniek die papierwerk vir eers agtergelaat en die strate in gevaar om sop en ’n broodjie uit te deel.

Volgens Emily Anderson, wat saam met haar kollegas die dag gereël het, was dit genotvol om te help en te sien hoe baie waardering diegene wat hulle bedien het, gehad het.

In Cloetesville het die leerders van Pieter Langeveldt Primêr akhni (hoenderkerrie en rys) en sop ontvang danksy die onderwysersvakbond Naptosa en Al Insan Food Relief.

Naptosa het verskeie nasionale projekte op Mandeladag gehou en sy geleentheid vir die Wes-Kaap is in Stellenbosch gehou. Die vakbond se visepresident, Nkosi Phendule Ntantala, sê Mandeladag gaan daaroor om die waardes van oudpresident Nelson Mandela uit te leef.

“Ons kollegas is deel van ’n gemeenskap. Daarom is dit belangrik om na die gemeenskappe om te sien. Daar is baie uitdagings waarmee leerders daagliks moet worstel en om 67 minute af te staan is deel van dié omgee,” sê hy.

Organisasies wat nie Donderdag hul 67 minute van gemeenskapswerk kon verrig nie, het Saterdag hul tyd geskenk.

Die Idasvallei-sportraad het potte sop gekook, danksy skenkings van Food Lover’s Market en ander borge, om in die gemeenskap uit te deel. Kinders en grootmense het vroegoggend tougestaan om ’n stomende bakkie sop en ’n broodjie te ontvang en die kleinspan het ook met lekkernye weggestap.

Lede van die Eikestadnuus-span was byderhand om te help.

Later die dag het vrywilligers van die Shincheonji-kerk van Jesus en ’n paar kinders van Idasvallei met handskoene en swartsakke gewerk om rommel op die plaaslike netbalbane op te tel. Die groep het alles van papiere tot plastieksakkies opgetel.

Die vrywilliger Ntshidiseng Bulane (27) het jongmense aangemoedig om deel te wees van gemeenskapswerk. Sy meen benewens die terugploeg in die gemeenskap is dit ook ’n geleentheid vir jongmense om eendersdenkende mense te ontmoet.

Volgens die raadslid Roy van Rooyen kan die Stellenbosch-munisipaliteit se beamptes nie elke dag heeldag skoonmaak nie. Hy was daarom bly om te sien die plaaslike kinders help om die sportgeriewe op te ruim.

Magda Esau en Emily Anderson van die universiteit se regskliniek besig met die tamaaie potte na hulle kos uitgedeel het. Foto: Yaël Malgas

Die span van die Universiteit Stellenbosch se regskliniek deel Donderdag warm sop in die middedorp uit. Foto’s: Yaël Malgas

Van links het Brian Minnis, Oscar Groenewald, Johan Adonis en Riaan Arnold in Idasvallei help sop uitdeel.Foto: Yaël Malgas

Van links is Pieter Langeveldt Primêr se skoolhoof, Shafiek Jacobs, Clint Carelse (Naptosa), Shamiela Dramat (Al Insan Food Relief), Nkosi Phendule Ntantala (Naptosa) en Yasierah Adonis (Naptosa) – die span agter die skenking van kos by dié skool. Foto: Yaël Malgas
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.