Omgee-hospies lewer talle dienste

,

Engele van dood is hulle nie, ten spyte van wat die publiek van die Stellenbosch-hospies dalk dink. Inteendeel – wat die span van die plaaslike hospies wil doen, is om […]


Engele van dood is hulle nie, ten spyte van wat die publiek van die Stellenbosch-hospies dalk dink.

Inteendeel – wat die span van die plaaslike hospies wil doen, is om ‘n pad saam met sy kliënte te stap.

Nasionale hospies-week is verlede week van Maandag 5 tot Sondag 11 Mei herdenk.

Volgens suster Bernalene Brandt, wat vir byna twee dekades by die hospies werk, is die hospies vir vele mense ongelukkig sinoniem met die dood.

“ ’n Deel van die probleem is dat mense eers met ons te doen kry wanneer hulle in ‘n krisis is. Sodra ‘n [kritieke] toestand by ‘n pasiënt gediagnoseer word, kan ons begin help. Pallatiewe sorg is slegs een van vele dienste wat ons lewer,” verduidelik sy.

Benewens sorg vir terminale pasiënte help Brandt en haar kollegas ook met pyn-bestuur, vervoer na doktersafsprake en aansoeke vir maatskaplike toelaes. Hulle bied ook fisioterapie en sielkundige ondersteuning vir beide pasiënte en hul naasbestaandes.

Die Stellenbosch-hospies, langs die Stellenbosch-hospitaal, het 12 beddens en huis van kankerpasiënte tot mense wat ná skietwonde moeilik gesond word. Hulle versorg ook terminale pasiënte tydelik om hul versorger-naastebestaandes ‘n blaaskans te gee.

Van links is die Stellenbosch-hospies se suster Bernalene Brandt, die voormalige kliënt Florence Pieterse en die hospies-bestuurder Jennilee Geduld by die ingang van dié hospies, wat langs die Stellenbosch-hospitaal geleë is. Foto: Yaël Malgas

Florence Pieterse, wat 18 jaar gelede die eerste keer met die Stellenbosch-hospies te doen gekry het, getuig van dié hospies se holistiese hulp.

Kanker is in 2007 by Pieterse, van Idasvallei, gediagnoseer en sy is drie maande gegee om te leef. Sy het by die hospies vir ondersteuning aangeklop.

“Aan die begin was hospice soos ‘n vloekwoord, maar as jy deur die proses is soos ek, kry jy ‘n heel ander siening. Die manier waarop hulle met jou werk, kry jy nêrens meer nie. Jy is nie net ‘n pasiënt nie – jy is ‘n mens en ‘n familielid. Indien hulle jou pyn kon wegneem, het hulle dit ook gedoen.

“Ek sal die hospies ten volle aanbeveel. Hier het hulle ‘n pad saam met my gestap. Selfs nadat ek in remissie was, het ek nooit kontak verloor nie. Ek was deel van die ondersteuningsgroepe en het praatjies saam met hulle gedoen. Nou het ek fase-4-longkanker. Nadat ek die nuus ontvang het, het ek gedink ‘bel vir suster Brandt, sy sal weet wat om te doen’,” vertel sy.

Die Stellenbosch-hospies help staats- sowel as private pasiënte. Behoeftige kliënte word ook gehelp deur Woolworths se Food Forward SA-projek wat kos aan die organisasie skenk.

Volgens Brandt is die belangrikste dat alle kliënte met menswaardigheid gehelp word om te verseker hulle het die beste lewensgehalte moontlik.

“Leef voluit totddat jy sterf – dit is wat ons glo. In baie gevalle het kliënte konstante pyn en ons help hulle om hul medikasie reg te gebruik of om na alternatiewe pynverligting te kyk. Die emosionele uitwerking wat ‘n terminale diagnose het, moenie onderskat word nie. Ons help beide die kliënte sowel as hul ondersteuningsnetwerk om dit te verwerk. In sommige gevalle is dit die families wat meer met die diagnoses sukkel as die kliënte self. Die onder-

steuningsgroep en die werk wat Hospice se maatskaplike werkers doen, bied gemoedsrus en ‘n oor vir enigeen wat dit nodig het – 24 uur per dag.”

Pieterse sê Brandt het haar selfs bygestaan toe haar man, Marvin, ‘n paar jaar gelede oorlede is. “Elkeen wat hier betrokke is, het ‘n passie vir wat hulle doen. Hulle ken elke pasiënt op die naam – waar hulle woon, wie hul familie is en wanneer hulle oorlede is. Die span is ongelooflik en elkeen weet presies wat hul taak is en hoe om dit tot die beste van hul vermoë te doen. Hul omgee is eindeloos,” sê Jennilee Geduld, die hospies se bestuurder.

Geduld sê sy is in verwondering van die twee susters, twee maatskaplike werkers en ander personeel se omgee. In die gevalle waar kliënte afsterf, kan hul geliefdes steeds ondersteuningsdienste ontvang om die verlies te verwerk. Geduld het vanjaar by die span aangesluit en sê haar fokus is om die persepsie van die hospies te verander en om geld in te samel om hul dienste uit te brei.

“Sedert ek hier werk, het ek baie meer mense by ons deure sien uitstap as wat oorlede is. Die Stellenbosch-hospies sal eendag ‘n wêreldklas-fasiliteit wees, maar ons kan dit nie sonder ons borge en ondersteuners doen nie. Ons wil die plek wees waar mense vir die beste moontlike diens aanklop.”

You need to be Logged In to leave a comment.