Die afgelope tyd het die fokus heel tereg op die voorvalle van geweld by ’n plaaslike skool geval.

As oudonderwyser en leerder aan die betrokke skool, maak dit my diep seer, want ons sou as kinders alles moontlik gedoen het om die skool se naam hoog te hou.

Dit is vir my duidelik dat die WKOD reeds skuldiges by die skool begin soek. Die skuldige is egter die WKOD self wat alles moontlik doen om die skole te laat misluk. Almal weet dat as dit hierdie kinders se eerste oortreding is, sal die enigste straf detensie wees. Dan is dit die einde van die saak. Die WKOD is gedurig besig om poste te snoei. Die gevolg is oorvol klasse wat almal se bloeddruk opjaag.

Die onderwysdepartement saai wanorde in die skole, want hulle wil die skole so gou moontlik aan hul pelle in die privaat sektor verkoop. Hulle sny die geldelike toekenning aan die skole so geweldig dat die onderwysers nie die plekke in stand kan hou nie. By die aanstelling van senior personeel werk die departement oor die koppe van beheerrade, wat chaos by skole saai.

Omheinings by die plaaslike hoërskole bestaan nie, maar die WKOD steur hom nie daaraan nie. Hoërskool Cloetesville is op die verkeerdste plek denkbaar onder apartheid gebou.

Onderwysers word met klippe bestook, vensters word uitgegooi terwyl jy klasgee, maar die WKOD slaap. Maar as ryk sakemanne die skoolterrein wil steel vir ’n pot lensiesop, werk die departement kliphard. Die skool en die gemeenskap het elke duim grond nodig. ’n Krieketveld, atletiekbaan, sokker- en hokkievelde kan nie meer langer voor gewag word nie.

Die plaaslike hoërskole oorheers Suid-Afrikaanse sokker, sonder velde, sonder geld en sonder die steun van die WKOD. As die plaaslike gemeenskappe nie die Raka van ’n WKOD tot orde gaan roep nie, sien ek ’n donker toekoms vir die armes in die bruin gemeenskappe. Ek skryf ook onder ’n skuilnaam, want ons weet hoe hard die departement met hoofde werk wat kritiek lewer.

Besorgde ouer,

Stellenbosch

You need to be Logged In to leave a comment.